First Ascent se 37.5-reeks is ’n deurbraak vir meer as net atlete
Gerda Engelbrecht
Of jy deur ’n HIIT-sessie worstel, naweekroetes aandurf, of die onvoorspelbare temperatuurskommelings van menopouse beleef, First Ascent se nuwe 37.5-reeks bied wetenskaplik gesteunde gemak wat by jou liggaam aanpas. Dit is nie sommer net nog ’n vogverplasende materiaal nie – dit is intelligente termoregulering wat werk.
Sintetiese sportklere bring’n bepaalde soort ongemak: daardie klam, deurdrenkte gevoel wanneer jy oefen, gevolg deur die koue rilling wanneer jy ophou beweeg. Jare lank het ons aanvaar dis bloot deel van sportdrag. Maar First Ascent se nuwe reeks met 37.5-tegnologie sal jou anders laat dink.
Ek het die afgelope maand twee sleutelitems uit die versameling getoets – die Performance-basislaag-langmoutop en die Alto Jacket – en ek was in my skik met albei.
Wat maak 37.5-tegnologie anders?
Voordat ons na die individuele produkte kyk, is dit die moeite werd om te verstaan wat 37.5 van konvensionele vogverplasende materiale onderskei. Die naam self verwys na jou liggaam se ideale ewewig: ’n kerntemperatuur van 37,5 °C en ’n relatiewe humiditeit van 37,5% in die mikroklimaat langs jou vel.
Die tegnologie werk deur miljarde aktiewe deeltjies – afkomstig van vulkaniese minerale en geaktiveerde koolstof uit klapperdoppe – wat permanent op veselvlak ingevoeg is. Hierdie deeltjies skep ’n poreuse struktuur wat die materiaal se oppervlakarea aansienlik vergroot, sodat dit vog in die dampfase kan vasvang voordat dit in vloeibare sweet kondenseer.
Dít is waar dit slim raak: Die deeltjies absorbeer infrarooienergie wat jou liggaam natuurlik afgee, en gebruik daardie energie om verdamping te versnel wanneer jy warm kry. Wanneer jy koud kry, help dieselfde infrarooi-absorpsie om warmte te behou. Dit is dinamiese termoregulering wat deur jou eie liggaamshitte aangedryf word.
Anders as materiale wat ’n vogverplasende deklaag bevat wat mettertyd uitwas, is hierdie deeltjies in die materiaal self ingeweef, wat beteken die verrigting is permanent. Die deeltjies vang ook reukmolekules vas en stel dit tydens was vry –jy reuk dus nie onaardig ná intense oefensessies nie, wat baie waardeer word.
Waardevol vir meer as net die gimnasium
Hoewel atlete die verrigtingvoordele onmiddellik sal raaksien, lê die ware keerpunt in hoe wyd bruikbaar hierdie tegnologie is. Vroue wat perimenopouse of menopouse ervaar, kry skielike, onvoorspelbare warm gloede wat deur wisselende estrogeen- en progesteroonvlakke veroorsaak word. Dit beïnvloed die liggaam se termoreguleringsmeganismes direk. Klere wat temperatuur en humiditeit aktief bestuur – deur vogdamp te verwyder nog voordat jy oorverhit voel – kan jou gemak gedurende die dag en nag verbeter.
Net so sal enigiemand wat temperatuursensitief is, in veranderlike omgewings werk, of bloot deur die dag gemaklik wil voel, werklik waarde hierin vind. Dit is tegniese klere wat gesofistikeerd genoeg is om buite die roete ook te dra.

Die Performance-langmou-basislaag: Tot die uiterste getoets
Prys: R699
Samestelling: 73% 37.5-poliëster, 15% poliëster, 12% spandeks
Vorm: Noupassend
Ek het hierdie basislaag in waarskynlik die strafste moontlike scenario getoets: binnenshuise fietsrysessies op ’n Zwift-fiets waar sweet onvermydelik en ventilasie beperk is. Oor vier weke se gereelde gebruik het die materiaal se verrigting konsekwent en indrukwekkend gebly.
Die noupassende snit bied kompressie sonder beperking, en die 12% spandeks-inhoud beteken die kledingstuk beweeg saam met jou eerder as teen jou. Maar die uitstaande kenmerk is hoe dit vog hanteer. Waar tradisionele basislae binne 20 minute versadig en swaar sou raak, het die 37.5-materiaal merkwaardig droog gevoel. Jy sweet beslis, maar die damp word so doeltreffend weggetrek dat jy nooit papnat voel nie.
Die materiaal raak ook buitengewoon vinnig droog tussen intervalle of wanneer jy afkoel –wat daardie koue rilling ná oefensessies voorkom. Ná ’n maand se toetsing en gereelde was het die verrigting nie verswak nie, en belangrik: Daar is geen klankie wat om jou hang nie, selfs ná besonder intense sessies.
Vir hardlopers, stappers, fietsryers of enigiemand wat volgehoue aërobiese aktiwiteit doen, handhaaf hierdie basislaag wisselende intensiteitsvlakke met gemak. Dit werk ewe goed as ’n enkele laag in warmer toestande of as deel van ’n laagstelsel in die winter.

Die Alto-baadjie: Sportief én netjies
Prys: R1 299
Samestelling: 55% 37.5-poliëster, 45% herwinde poliëster
Kenmerke: Termo-aanpasbare materiaal, wafeltekstuur
Die Alto Jacket verdien verskeie pluimpies omdat dit slaag waar die meeste tegniese buitelae misluk: Dit lyk ook goed genoeg om te dra wanneer jy nié oefen nie.
Ek het dit tydens ’n oggenddrafsessie ontdek toe ’n bejaarde paartjie in hul bakkie langs my stilhou, sigbaar bekommerd. Hulle het gedink ek is in die moeilikheid – dat iemand my jaag of dat ek bang is – en het gestop om my ’n saamrygeleentheid na veiligheid aan te bied. Ek het nie eens verleë gevoel nie! Dit sê baie oor hoe die baadjie voorkom: nie as helder sigbare sportdrag wat “ek oefen” uitroep nie, maar as alledaagse buitelugklere. Die paartjie kon werklik nie agterkom dat ek doelbewus gaan draf het nie.
Die baadjie se skoon lyne en tekstuurafwerking gee dit ’n meer verfynde voorkoms as tipiese sport-vliesbaadjies. Ek het dit sedertdien op koue oggende kantoor toe gedra en niemand het ’n oog geknip het nie.
Maar moenie styl met ’n gebrek aan “vleis om die bene” verwar nie. Die termo-aanpasbare vlies-konstruksie bied warmte sonder volume, wat dit ideaal maak vir daardie tussenin-temperature waar dit nie heeltemal koud genoeg vir ’n pofbaadjie is nie, maar jy meer as net ’n ligte laag nodig het. Die wafeltekstuur maak die voorkoms interessant terwyl dit lugsakkies skep wat isolasie verbeter.
Tydens stap- en veldloopsessies het die baadjie uitstekend presteer, ook as ek op my ergste geoefen en gesweet het. Teen opdraandes, waar jy aansienlike liggaamshitte opwek, voorkom die 37.5-tegnologie oorverhitting deur humiditeit aktief te bestuur. Teen afdraandes of op blootgestelde stukke veld behou dit genoeg warmte om gemaklik te bly sonder dat jy ekstra lae hoef aan te trek.
Die verhouding tussen gewig en warmte is ideaal. Dit is lig genoeg om in ’n hidrasie-onderbaadjie of dagrugsak geprop te word, maar bied genoeg isolasie vir vroeë oggendsessies of wanneer die weer draai. Vir Suid-Afrikaanse toestande – waar jy dalk ’n staptog in enkelsyfer-temperature begin en in die middagson eindig – is hierdie aanpasbaarheid waardevol.

Die Performance-basislaag-frokkie: Uitkoms in die somer
Prys: R499
Samestelling: 73% 37.5-poliëster, 15% poliëster, 12% spandeks
Vorm: Noupassend
Hoewel ek die moulose frokkie nog nie self getoets het nie, is dit die logiese volgende toevoeging tot my 37.5-klerekas. Met dieselfde materiaalsamestelling en tegnologie as die langmouweergawe bied dit dieselfde vogbestuur en termoregulering in ’n formaat wat by warmer toestande of hoër-intensiteitsoefening pas.
Die frokkie werk goed as ’n basislaag onder ’n fietsryhemp, as ’n enkele laag vir gimnasiumsessies, of vir drafsessies waar lang moue te veel sou wees. Ek beplan ook om in die somermaande daarin te slaap – die aktiewe temperatuurregulering en vogbestuur behoort besonder doeltreffend te wees om nagsweet te hanteer en die mikroklimaat gemaklik te hou sonder die klamheid wat gewoonlik met warm nagte gepaardgaan.
Teen R499 is dit die mees toeganklike intreepunt tot die 37.5-reeks en ’n uitstekende keuse vir enigiemand wat nuuskierig is oor die tegnologie.
Die voordeel van lae
Een besonderheid wat ek wil beklemtoon: Die 37.5-tegnologie raak doeltreffender wanneer jy verskeie lae in die stelsel gebruik. Hoe meer aktiewe deeltjies oor jou basis-, middel- en buitelaag teenwoordig is, hoe doeltreffender kan die stelsel humiditeit bestuur. Ek het gevind dat die kombinasie van die Performance-basislaag en Alto-baadjie besonder doeltreffend is vir winteroggenddrafsessies – die basislaag hanteer vog langs die vel, terwyl die baadjie warmte en windbeskerming bied sonder om humiditeit vas te vang.
Wie moet die reeks oorweeg?
Die vanselfsprekende gehoor is buitelugentoesiaste en atlete wat verrigting van hul toerusting verwag. Maar die ware pluspunt van 37.5-tegnologie is die relevansie daarvan buite tradisionele sportdragdemografieë:
- Vroue wat perimenopouse of menopouse ervaar: Die aktiewe temperatuurregulering kan gemak tydens warm gloede en temperatuurskommelings betekenisvol verbeter.
- Pendelaars en kantoorwerkers: Die Alto-baadjie oorbrug die gaping tussen tegniese en informele drag, wat dit geskik maak vir veranderlike binne- en buiteomgewings.
- Enigiemand met temperatuursensitiwiteit: Of dit weens hormonale veranderinge, mediese toestande, of bloot ’n geneigdheid is om warm of koud te kry, klere wat aktief by jou liggaam aanpas, bied tasbare gemak.
- Reisigers wat lig wil pak: Kledingstukke wat oor verskeie scenario’s en weerstoestande werk (en minder gewas hoef te word), hou jou tas ligter.
Die belegging werd
Teen R699 vir die basislaag en R1 299 vir die baadjie val First Ascent se 37.5-reeks in die middel- tot premiumkategorie. Maar die prys reflekteer werklike tegnologie en nie bloot bemarkingsfoefies nie. Dit is nie kledingstukke wat jy elke seisoen sal vervang nie – die ingeweefde 37.5-deeltjies beteken die verrigting verswak nie, wat dit ’n langtermynbelegging maak.
Ek besit nou twee van die Performance-langmoufrokkies en die Alto-baadjie, wat getuig van my vertroue in die reeks. Ek sal beslis die moulose frokkie byvoeg noudat die somer aanbreek – dit is die perfekte aanvulling vir hoë-intensiteitsoefening in warmer toestande.
Vir enigiemand wat gefrustreerd is met die beperkings van konvensionele sportdrag, of bloot klere soek wat saam met jou liggaam werk eerder as daarteen, kom First Ascent se 37.5-reeks sy beloftes na. Ons beveel dit sterk aan.
First Ascent se 37.5-reeks is aanlyn beskikbaar by www.firstascent.co.za
Hierdie artikel is nie geborg nie. Alle menings is dié van die redaksie.
Lees ook
Ontmoet MINNEE – die nuwe modepop wat ons almal stileerders gaan maak
Afika Jadezweni Welkom in Suid-Afrika, liewe MINNEE, die piepklein modepop wat olie gaan gooi op die vuur van ons obsessie om alles ’n bietjie meer ...
- 3 days ago
Jockey word 150 – en dié legende bring iets nuuts na jou onderklere-laai
Wat laat ’n maatskappy 150 jaar lank floreer?
- 1 week ago
Gore-Tex is terug – en hierdie twee Salomon-skoene bewys dit
Gore-Tex is weer in die mode, en twee nuwe modelle van Salomon bewys waarom jy dit nie kan ignoreer wanneer jy in die veld of berge stap of draf nie.
- 1 week ago




