Murdoku kombineer Sudoku met ’n moordraaisel – en dit is verslawend
Daar is ’n nuwe soort raaiselspeletjie beskikbaar, en Sudoku‑liefhebbers gaan mal daaroor wees.
As jy van Sudoku hou maar dink dit kort ’n bietjie oemf, is dit jou gelukkige dag. Murdoku neem die lekkerte van die roosterlogika van Sudoku en verpak dit as ’n volkleur-moordraaisel. Jy vul nie net syfers in nie. Jy plaas verdagtes op spesifieke plekke, volg leidrade en ontmasker ’n moordenaar. Murdoku is die breinkind van die Montreal‑raaiselskepper Manuel Garand. Volume 1 is reeds ’n topverkoper oorsee en in 15 tale uitgegee. Volume 1 en 2 is in Suid‑Afrika beskikbaar.
Wat is Murdoku?
Dink aan elke bladsy as ’n miniatuur‑misdaadtoneel. ’n 9×9‑rooster word in kamers verdeel, elk geïllustreer met meubels, deure, vensters, plante, selfs diere. Oor die rooster versprei is ’n rolverdeling van verdagtes en een slagoffer; elkeen bevat ’n leidraad oor waar die betrokke persoon geplaas kan word (of nie geplaas mag word nie). Jy moet uitwerk waar almal gestaan het toe die moord gepleeg is – en dan vasstel wie dit gedoen het.
Volume 1 bied 80 oorspronklike gevalle wat afspeel op plekke wat wissel van ’n knus koffiewinkel tot ’n luukse seiljag, ’n verlate terrein en ’n volgepakte operahuis. Volume 2 – Back in Time – stuur jou deur vyf historiese eras: die Steentydperk, Middeleeuse taverne, antieke Egiptiese tempels, die Goue Eeu van Seerowery en die Wilde Weste. Dit bevat dieselfde verslawende logikastelsel, maar splinternuwe wêrelde om te ontrafel. Jy kan met enigeen van die boeke begin, jy hoef nie by Volume 1 te begin nie.

Hoe speel jy?
Die reëls is eenvoudig, maar die afleidings raak soms ingewikkeld. Hier is die kern:
- Bestudeer die rooster. Elke legkaart is ’n misdaadtoneel wat in kamers verdeel is, propvol voorwerpe en artikels – stoele, deure, vensters, plante – wat almal saak maak.
- Lees die leidrade. Elke verdagte en die slagoffer het ’n leidraadkaart. Leidrade kan iemand aan ’n spesifieke kamer, voorwerp, ry of kolom verbind, of hul verhouding tot ’n ander karakter beskryf (“Ek was in dieselfde kamer as die sjef”).
- Plaas almal – een per ry, een per kolom. Dit is die ruggraat van Sudoku. Twee persone kan nie ’n ry of ’n kolom deel nie. Die slagoffer tel as ’n persoon, dus is sy/haar posisie ook belangrik.
- Elimineer. Kruis onmoontlike blokkies uit namate leidrade die moontlikhede beperk. “Next to” beteken direk langs iemand – horisontaal of vertikaal, in dieselfde kamer. Diagonale en posisies aan die ander kant van ’n muur tel nie. As iemand sê hy/sy het op ’n stoel gesit, kan hy/sy slegs op ’n blokkie gaan wat ’n stoel het.
- Los die rooster op. Wanneer elke verdagte en die slagoffer geplaas is, is die legkaart opgelos.
- Vind die moordenaar. Die moordenaar is die een verdagte wat alleen saam met die slagoffer in dieselfde kamer of area is.
- Sukkel jy? Elke legkaart het ’n volledige stap‑vir‑stap‑oplossing agter in die boek, sodat jy nooit hoef te wonder nie
Hoekom dit verslawend is
Murdoku tref ’n fyn balans wat min speletjies regkry. Dit is skermvrye vermaak wat jou brein werklik oefen – die soort ding wat jy op die bank, in ’n koffiewinkel of op ’n vlug kan doen. ’n Uur sal verbyvlieg. Die geïllustreerde misdaadtonele gee dit ’n bordspeletjie‑aanslag wat gewone syferroosters nie kan ewenaar nie, en die ontknoping aan die einde van elke speletjie is verbasend bevredigend. Jy kan dit op jou eie invul, maar dit is ook ideaal vir paartjies of groepe wat daarvan hou om te stry oor wie die verpleegster waar geplaas het.
Die moeilikheidsgraad bou op van maklik tot venynig sodat beginners nie afgeskrik word nie en veterane nie verveeld is nie. En met 80 speletjies per boek sal jy ure lank besig bly.
Koop dit HIER
Beide volumes is in Suid‑Afrika op Takealot beskikbaar:
Murdoku: 80 Murder Mystery Logic Puzzles, Volume 1 – die oorspronklike topverkoper, 208 bladsye, 80 volkleurgevalle.
Murdoku Volume 2: 224 bladsye, 80 gevalle.
Speel voor jy koop – Murdoku het gratis uitdrukbare speletjies by murdoku.com/print en ’n gratis aanlynweergawe by murdoku.com/play
Reeds ’n Murdle‑aanhanger?
As die naam Murdoku bekend klink, dink jy dalk aan sy geestelike voorganger: Murdle, die gewilde moordraaisel‑logika‑speletjie deur G.T. Karber. Die konsep is soortgelyk, maar die werkswyse verskil. Elke Murdle‑geval bied ’n rolverdeling van verdagtes, ’n stel wapens en ’n lys liggings. Jy lees die leidrade, merk af wat jy weet op ’n logikarooster – wie watter wapen gehad het, wie waar was – en skrap onmoontlikhede totdat net een kombinasie oorbly: die moordenaar, die wapen en die toneel, alles netjies ooreenstemmend. Murdle verskyn ook as ’n gratis daaglikse speletjie by murdle.com, en die boeke kombineer daardie gevalle in pragtige papier-uitgawes.
Murdoku neem dieselfde konsep en voeg ’n ruimtelike kinkel by – jy plaas mense op ’n raamwerk, nie net kategorieë op ’n rooster bymekaar nie. As jy die Murdle‑reeks al verslind het, is Murdoku die natuurlike volgende stap. En as die Murdle‑koors jou nog nie beet het nie, is daar hope nuwer titels om te geniet:
die Kersfees‑tema Merry Murdle (25 legkaarte wat oor 1 tot 25 Desember afspeel),
Murdle: The Case of the Seven Skulls (64 speletjies rondom sewe vermiste skedels),
die splinternuwe Murdle Heist, en
Murdle: Even More Killer Puzzles – almal beskikbaar op Takealot.
Murdle en Murdoku sal jou maande lank besig hou.
Hierdie artikel is nie geborg nie, maar bevat geaffilieerde skakels. As jy klik en koop, sal ALLES ’n klein kommissie ontvang sonder dat jy iets ekstra betaal. Alle opinies is dié van die redaksie.
Lees ook
Doen nóú jou huiswerk om die meeste uit Swart Vrydag te haal
Swart Vrydag is net ’n paar weke weg, en hoewel die dag waansinnig kan raak, kan ’n bietjie voorbereiding nou die verskil beteken tussen werklike besparing en met jou hande in die hare sit.
- 2 weeks ago
Ontmoet MINNEE – die nuwe modepop wat ons almal stileerders gaan maak
Afika Jadezweni Welkom in Suid-Afrika, liewe MINNEE, die piepklein modepop wat olie gaan gooi op die vuur van ons obsessie om alles ’n bietjie meer ...
- 2 months ago
Slim keuses begin met betroubare inligting
Lesers van ALLES weet reeds ’n aankoopbesluit begin lank voordat jy jou beursie oopmaak, en betroubare resensies en deeglike navorsing help jou om met meer sekerheid te kies.
- 3 months ago










