16 Dinge wat jou hond wil hê jy moet weet (en 9 dinge van die kat)
Hulle kan nie self praat nie, maar daar is ’n paar dinge wat jou hond en kat vir jou wil sê . . .
UIT DIE MOND VAN DIE HOND
- Bly te kenne! Ek is bly om jou te ontmoet, maar jy maak my bang wanneer jy my dadelik wil streel. Hurk eerder op een knie, kyk effens weg en laat my eers aan jou ruik. Aaah, jy is een van dáárdie Van der Merwes…!
- ’n Kwispelende stert beteken nie noodwendig dat ek gelukkig is nie. Dit kan ook beteken dat ek bedreig, onseker of verward voel omdat ek die sosiale situasie nie verstaan nie.
- Moenie hare kloof nie! Net omdat ek ’n husky of ’n Duitse herdershond is, beteken dit nie jy hoef my in die somer te laat skeer nie! My pels isoleer my en beskerm my teen velinfeksies. Borsel eerder my pels met ’n rubberborsel vir sirkulasie, en ’n hareborsel om dooie hare te verwyder.
- Jy kan nie ’n ou hond nuwe truuks leer nie? Bog! Selfs in my senior jare is ek gretig om uitgedaag te word en nuwe dinge te leer.
- Ek is ’n kenner van lyftaal. Jy maak my deurmekaar wanneer jy “nee” sê wanneer ek iets verkeerds doen, maar jy bly glimlag en jou liggaam bly ontspanne.
- Jy noem my dalk jou “baba”, maar ek kan nie dieselfde kos as jy eet nie. Rosyne en druiwe, sjokolade, koffie, makadamia-neute en avokado’s is alles sleg vir my gesondheid.
- Ek is bang tydens vuurwerke en donderweer omdat ek baie beter kan hoor as jy. Laat my in ’n vertrek bly wat ek goed ken, en maak vir my ’n hoek waar ek kan wegkruip. Dit sal help as jy vir my ligte agtergrondmusiek speel (soos ’n sagte radio of TV) en my troos deur met my te gesels. So terloops, die stofsuier en haardroër maak my ook bang.
- Ek het tyd nodig om my nood te verlig! Ek moet eers in die area snuffel om die “boodskappe” van ander honde te ontsyfer, en dan moet ek ’n paar keer draai om seker te maak daar is geen roofdiere wat my bedreig nie en om my gebied te merk. Moenie jou oë rol nie! Jy neem ’n boek badkamer toe.
- Gras is lekker! Soms eet ek dit omdat ek siek voel en moet braak, maar ander kere eet ek dit sommer net vir die lekker. Moet jou nie daaroor bekommer nie. Maak net seker jy gebruik nie giftige plaagdoders in die tuin nie.
- Moenie my neus daarin druk as ek in die huis ’n glips maak nie. Ek verstaan glad nie hoekom jy dit doen nie. Neem my eerder buitentoe en prys my wanneer ek op die regte plek my ding doen.
- Ek skuur nie my agterstewe op die mat om jou te vermaak nie – dit beteken ek jeuk. Dit kan beteken ek het wurms of ’n infeksie van die anale sak. Ontwurm my (jy kan ’n pil by die troeteldierwinkel koop) en neem my na die veearts as dit nie verbeter nie.
- As my gedrag verander, kan ek siek wees. As ek my eetlus verloor, meer water as gewoonlik drink, baie gewig verloor of aansit, of skielik baie slaap, beteken dit iets is verkeerds. Neem my asseblief veearts toe.
- Moet my asseblief nie in die erf vasmaak nie. Ek is ’n sosiale wese en voel ongelooflik geïsoleer wanneer jy dit doen. Dit sal my depressief of destruktief maak.
- Moenie my in ’n motor los nie. Om net ’n venster op ’n skreef oop te maak, doen min aan die temperatuur in die voertuig. My kernliggaamstemperatuur styg baie vinniger as mense s’n, wat beteken dat ek breinskade kan kry of kan sterf in ’n warm motor.
- Ek weet hoe jy voel. Ek verstaan nie net jou lyftaal nie, maar ook jou stemtoon. Omdat ek jou so liefhet, voel ek dikwels dieselfde emosies as jy. As jy angstig is, sal ek dit ook voel.
- Drukkies en soene is ’n mens-ding. Ek wys nie liefde met drukkies en soene nie. Ons laat soms toe omdat ons weet jy hou daarvan, maar ek verkies om jou vel te lek om my liefde vir jou te wys.

DIE KAT Sê…
- Wanneer ek my agterkant na jou toe draai, moet jy gevlei voel. Dit is my weergawe van ’n mens wat iemand op die wang soen. Ek gee jou volle toegang tot al my privaatdele, wat wys dat ek jou vertrou.
- Soms knipoog ek vir jou deur altwee my oë toe te maak. Dit is my manier om te sê ek vertrou jou. Jy kan die kompliment beloon deur stip na my te kyk en jou oë stadig vir ’n paar sekondes toe te maak.
- As ek op jou bed, rusbank of bors “knie”, moenie my straf nie. Toe ek ’n babakatjie was, het ek my ma geknie om die melkvloei te stimuleer terwyl sy my gevoed het. Nou is dit ’n instinktiewe gedrag wat my troos en my hipnotiseer. Ek het ook reukkliere in my pote waarmee ek jou as my mens merk.
- Sien die wêreld deur my oë. Jy sien die wêreld horisontaal, maar ek sien dit vertikaal. Moet dus nie kwaad word as ek goed van die tafel afstamp nie, gee my eerder ’n plek om te klim en te spring – soos ’n stoel voor ’n boekrak.
- As ek spin, is ek nie noodwendig gelukkig nie. Ek spin ook wanneer ek gestres of angstig is omdat dit selftroosend is. Dit is soos ’n kind wat aan sy duim suig.
- Ek spring op jou skootrekenaar, sit op jou handboek, of onderbreek jou telefoonoproepe omdat ek jaloers is dat jy nie tyd saam met my spandeer nie. Speel bietjie met my en gee my ’n paar speelgoed. (Jy hoef nie altyd vir my speelgoed te koop nie – ek hou daarvan om met leë bokse of tou te speel.)
- Ek stoot my kop teen jou omdat ek jou met my geur wil merk en jou as my eie wil opeis.
- Ek weet jy terg graag en sê jy is my slaaf, maar jy kán my oplei. Kyk na video’s op YouTube om my te leer sit, bly of kom, of om iets met my neus aan te raak. Ook, dit is moontlik om my te leer om aan ’n leiband te loop.
- Ek is ’n karnivoor en hoef nie suiker of koolhidrate (wat na suiker omskakel) te eet nie. Selfs ’n klein bietjie sjokolade kan my doodmaak.
Bronne: iheartscats.com; Reader’s Digest; petmd.com; hillspet.co.za

Lees ook
Hoe slim is Wagter? Doen die hond-IK-toets en kyk!
Ons spog graag met “oubaas se slim honne”, maar hoe intelligent is hulle regtig?
- 3 weeks ago
Soek jy ’n drafmaat? Dié 6 honde is die beste
Sommige honde is gebou vir spoed, ander vaar beter met ’n stadige, bestendige pas.
- 4 weeks ago
Troeteldierkos: Ontsyfer die etiket
Vind jy die inligting op troeteldierkosetikette verwarrend?
- 4 weeks ago




