ALLES TOETS Salomon Ultra Glide III – die tekkie met die innoverende sool
Het jy ’n paar stap- of veldlooptekkies nodig? Salomon het onlangs die Ultra Glide IV bekend gestel, wat beteken jy kan die Ultra Glide III plek-plek vir ’n winskoop optel. Ons dink dié skoen bied ’n uitstekende balans tussen gewig, gemak en goeie vastrap. Ons het die berge ingevaar met die Ultra Glide III.
Uit die boks
Jy kan nie anders as om “sjoe” te sê wanneer jy die Ultra Glides uit die boks haal nie. Die ligpers kleur (Salomon noem dit “Cosmic skye”) is werklik indrukwekkend. Dit is ook beskikbaar in blou (“French blue”), grys (“Excalibur”), swart en liggroen (“clearly aqua”). Die eienskap wat egter jou oog die meeste vang, is die golwende patroon van die Energy Foam-sole. Jy kan ook nie die geometrie van die buitesool miskyk nie. Dit lyk onmiddellik ultra gemaklik.
Die Erfenis
Dit is die derde generasie Ultra Glides, maar die Ultra Glide III is nader aan die elite skoen die S/Lab Ultra Glide, wat teen die einde van 2024 vrygestel is, as die Ultra Glide II. Dit deel baie eienskappe met die (veel duurder) S/Lab-weergawe. Die grootste verskil tussen die S/Lab en die gewone Ultra Glide is die middelsool. Die S/Lab het ’n saamgestelde middelsool wat Energy Foam+ gebruik, terwyl die gewone weergawe ’n Energy Foam-middelsool het.
Werkverrigting
Ná meer as 300 km op bergpaaie, kan ALLES sê dat die Ultra Glide III ’n fantástiese skoen is. Die rekbare bostukke pas lekker knus sonder dat jou tone opgefrommel voel, terwyl die rubber-toonstukke jou voete teen klippe op die roete beskerm. Die tong bevat ’n kussing wat dit baie gemaklik laat voel.
Waar die Ultra Glides egter jou hart steel, is by die middel- en buitesool. Draai die skoen onderstebo om die “duike” in die sool te bewonder. Hierdie duike verlig die druk op al die plekke waar jou voete gevoelig is vir blase. Dié tegnologie verlig die impak op die voet en versprei die druk oor ’n groter deel van die sool. Dit voel effens soos ’n wipmat, sonder dat dit stabiliteit prysgee. As jy meer as 6 uur per dag op lang afstande stap of draf, gaan jy oneindig dankbaar wees hiervoor. Dit voel soos pantoffels.
Vir drawwers én stappers
Hou egter in gedagte dat die skoen nie waterdig is nie (dis hoekom dit veerlig is). As dit reën, sal jou voete nat word. Maar aan die positiewe kant is dit ’n ultraligte, super gemaklike skoen wat ook vinniger droog word. As jy meer enkelbeskerming en ’n waterdigte skoen soek, mik na die Salomon X Ultra 360 of die XA Pro 3D V9 Gore-Tex.
Pas jou tekkies op
- Een van die mites van stapskoene is dat dit maande verg om dit in te loop. Dit mag waar gewees het van die ou swaar, leer-stapstewels, maar dit is nie waar van moderne, sagte veldlooptekkies nie.
- Die tipiese leeftyd van ’n veldlooptekkie is tussen 500 en 750 km. Neem dit in ag as jy ’n langafstandstap, soos die Camino de Santiago, beplan.
- Veldlooptekkies is spesifiek ontwerp vir natuurlike oppervlakke soos grond, modder, klippe en gras. Hierdie oppervlakke is oor die algemeen sag en beter geskik vir die konstruksie van veldlooptekkies. As jy te veel op teer of harde, geplaveide oppervlakke daarmee stap, sal die sole vinniger verslyt, veral die sagter rubber buitesool wat jy nodig het vir ongelyke terrein. Die aggressiewe loopvlakpatrone in veldlooptekkies is nie gemaak vir plaveisel nie.
- Moenie dit onnodig dra nie. Ja, sneakers is ’n groot mode-trend en die versoeking is groot om jou tekkies binnenshuis op matte of soortgelyke oppervlakke te dra. Maar jy verkort jou tekkies se lewensduur. Dra jou modieuse tekkies na die braai en spaar jou veldlooptekkies vir die berge.
- As jy kan bekostig, roteer jou veldlooptekkies. As jy af en toe op harde oppervlakke oefen, kan dit ’n goeie idee wees om ook ’n paar padlooptekkies aan te skaf.
Die detail
- Gewig: 255 gram (285 g in die mans-weergawe)
- Veters: Quicklace
- Buitesool: All terrain Contagrip met duike
- Middelsool: Liggewig energyFOAM
- Kussing: Maksimum
- Gebruikfrekwensie per week: 4 of meer sessies
- Terrein: Gemeng
- Soort roete: Lang afstande
- Prys: R3599 vir die Ultra Glide IV, die III word tans plek-plek uitverkoop
Lees ook
Denim in 2026: wat is IN en wat is UIT
Gooi daardie sakkerige denims uit die kas uit – in 2026 swaai die pendulum weg van die oorgroot en verslete style van die afgelope paar jaar.
- 1 week ago
Tik ’n bietjie Netflix aan jou polse – die Bridgerton- en Emily in Paris-parfuumreekse is hier
Netflix het twee van sy mees geliefde reekse, Bridgerton en Emily in Paris, ’n nuwe lewe gegee – met parfuum.
- 3 weeks ago




