ALLES TOETS: Instant Vortex Plus Versazone . . . en dís hoekom ons mal is daaroor
As jy steeds skepties is oor lugbraaiers, sal die Instant Vortex Versazone jou voete onder jou uitslaan. Dit kry volpunte vir sy ontwerp en veelsydigheid, en jou gesin sal dol wees oor die sagte, sappige tuisgemaakte geregte.
Dit is moeilik om te glo dat sommige mense steeds dink ’n lugbraaier is net ’n modeneiging en iets wat ’n wit olifant op jou rak gaan wees. As jy energie wil bespaar (jou eie sowel as Eskom s’n), kan ’n lugbraaier ’n geskenk van Bo wees. Ek het oor die jare ’n paar lugbraaiers getoets, en die Instant Vortex Plus Versazone 8-in-1 (1700 W) is tot dusver my gunsteling.
Die toets
Ek het ’n heel hoender gaargemaak omdat lugbraaiers gewoonlik daarmee sukkel. Dit is dikwels krakerig en droog op sommige plekke, en rou op ander plekke. Ek het die heel hoender met ’n mengsel van olyfolie, suurlemoen en ’n kruiemengsel van Woolies ingevryf, en die suurlemoenskil in die hoenderholte ingedruk. Ek het die hoender in een mandjie op 180 grade Celsius vir 40 minute luggebraai. Ek het dit halfpad omgedraai, en toe bevrore oondskyfies by die ander mandjie gevoeg. Die tweede mandjie (met die skyfies) het ek op 205 grade Celsius vir 20 minute gestel.
Die resultaat was absoluut fantasties.
Hoender: Die hoendervel was bruin en krakerig, en die binnekant was besonder sag en sappig. Dit was oral perfek gaar! Presies wat jy van ’n lugbraaier verwag
Skyfies: Die tweede mandjie het die skyfies perfek hanteer en hulle ’n lekker bros buitekant gegee terwyl dit binne sag en donsig gebly het.
Die 1700W krag lewer werklik konsekwente verhitting. En die dubbele kookfunksie is ’n wenner. Dit spaar heelwat tyd as jy twee verskillende items gelyktydig kan gaarmaak.
Hoekom jy dit moet oorweeg
- Dubbelmandjie-ontwerp: Kook twee verskillende kosse op dieselfde tyd met verskillende instellings
- 8,5L kapasiteit: Ruim genoeg vir gesinsetes
- Clear Cook-funksie: Dit is wonderlik om jou kos deur die venster dop te hou en te kan sien hoe dit kook sonder om die mandjie oop te maak
- Egalige hitte-verspreiding: Alles kook eweredig
- Maklik om skoon te maak: Die mandjies was baie maklik
- Veelsydig: Die Vortex het 8 funksies. Jy kan lugbraai, braai, rooster, bak, opwarm, ontdooi, SyncCook en SyncFinish
ALLES sê
Hierdie lugbraaier het alle verwagtings oortref. Soos alle Instant-produkte, lyk dit elegant en voel dit solied. Dis luuks afgewerk. Die beheerpaneel is intuïtief, en die kookresultate is keer op keer uitstekend. Die dubbelmandjie-ontwerp laat dit uitstaan bo sy mededingers.
Sal ek dit aanbeveel? Absoluut! Ek gebruik Instant Pot se prutpot al langer as ‘n jaar en sal beslis in die toekoms ook hul lugbraaier aanskaf. Die gerief van die Versazone maak dit goeie waarde vir geld.
Prys: Ongeveer R4999, maar kyk uit vir uitverkopings
Lees ook
Die omvattende Vadersdag-geskenkgids: Bederf die man wat die beste verdien
Vadersdag is die perfekte geleentheid om stil te staan, dankie te sê en die mans wat soveel vir ons gegee het, behoorlik te bederf.
- 3 weeks ago
Drie maniere om House of BNG Brut Rosé hierdie winter te geniet
Vonkelwyn is dalk nie jou eerste keuse in kouer weer nie, maar House of BNG Brut Rosé is ’n goeie opsie vir jou tafel.
- 1 month ago
‘n Kykie na die Weylandts x Fieldbar Espresso Martini-versameling
Die Weylandts x Fieldbar-vennootskap fokus op die essensie van moderne onthaal in ‘n noukeurig saamgestelde versameling.
- 3 months ago




