Beleef die natuur se groen skouspel – ervaar die Noorderligte
Die Aurora Borealis is werklik ’n asemrowende belewenis – die natuur se jaarlikse vuurwerkvertoning. Daar is egter van nou tot Maart 2026 ’n spesiale rede om dit te probeer sien.
Die Aurora Borealis, oftewel die Noorderligte, is ’n natuurverskynsel wat die naghemel in helder skakerings van groen, rooi, pienk en pers tooi. Dis een van die natuurverskynsels wat ’n mens eenvoudig eenmaal in jou lewe móét sien. Dis ongelukkig ook taamlik wispelturig en onvoorspelbaar, en baie reisigers het stories van hoe hulle die onkoste aangegaan het om na die uithoeke van die wêreld te reis, maar op die ou end nié die Noorderligte gesien het nie.
Goeie nuus is egter dat die Noorderligte tans (in 2026) op sy beste in langer as ’n dekade is. Die son se aktiwiteit is in ’n 11 jaar siklus, en 2025/26 is die hoogtepunt van die siklus, die sogenaamde sonmaksimum (“solar maximum”). In hierdie tyd is die son meer aktief en stel dit meer sonwind-partikels vry, wat die intensiteit en die frekwensie van die Noorderligte beïnvloed. Dit beteken dat die gebied waarin dit gesien word, ook groter is. Dit is dus moontlik dat jy in die volgende paar maande die Noorderligte verder suid sal kan sien. Die volgende sonmaksimum word eers in 2036/2037 verwag.

Beste plekke om die Noorderligte te sien
- Ysland. Dis nie ’n goedkoop bestemming nie, maar dis een wat jou asem sal wegslaan. Bevrore watervalle, strande met swart sand, warmwaterbronne so groot soos rugbyvelde, geotermiese geisers wat kookwater verdiepings hoog die lug inblaas, ysgrotte . . . Ysland bied baie meer as net die Noorderligte! En die mense is gasvry en vriendelik. Huur ’n woonstel vir ’n paar nagte in Reykjavik en weer iewers op die platteland, soos die dorpie Vik of naby die Jökulsárlón-gletsermeer, en huur ’n motor om self rond te ry. Kook jou eie kos uit hul supermarkte. (Salm is baie bekostigbaar in Ysland.) Ysland is sowat 103 000 vierkante meter groot (kleiner as die Vrystaat) en die paaie is maklik om te navigeer. Uit Reykjavik kan jy op georganiseerde toere gaan om die Noorderligte te sien, maar jou beste kans is op die platteland, waar daar min mensgemaakte lig is.
- Noorweë. Hoe verder noord jy gaan, hoe beter is jou kans. Vanaf Oslo kan jy ’n aansluitingsvlug na Tromso neem, of jy kan die langer en mooier roete soontoe neem. Ry met die trein van Oslo na Bergen (een van die mees skouspelagtigste treinroetes in die wêreld), en klim in Tromso op ’n skip wat jou deur die fjords neem tot by Tromso (en verder). Bespaar geld deur self by die veerbootmaatskappy Hurtigruten te bespreek (www.hurtigruten.com). Hurtigruten is so seker dat jy die Noorderligte aan boord sal sien, dat hulle jou ’n ekstra gratis reis beloof as jy dit nie tydens jou 11 dag lange bootvaart sien nie! Die boot stop onderweg by ander pragtige plekke, soos Trondheim en die Lofoten-eilande. Tromso self is ’n klein paradys waar jy op ’n honde-slee kan ry. Onthou egter dat as jy skouspelagtige foto’s van die Noorderligte wil neem, ’n boot nie die beste opsie is nie omdat die boot nie stil genoeg staan nie.
- Finland. Die Lapland-streek, veral rondom Rovaniemi, is uitstekend geleë vir die Noorderligte. Rovaniemi is ook bekend as die amptelike tuiste van Kersvader. Vlieg tot in Helsinki en ry met die oornagtrein tot in Rovaniemi. Behalwe die Noorderligte en die Kersdorpie, kan jy ook op sneeu-kwadfietse ry en op ’n ysbreker-boottoer gaan waar jy in beskermende klere in die yswater kan dryf. (Dit is lekkerder as wat dit klink.)
- Ysland, Finland en Noorweë is die algemeenste plekke, maar daar is ook ander opsies. Oorweeg die dorp Abisko in Swede; die Yokon, Noordwestelike gebied of Nunavut in Kanada.

Wenke
- Die beste maande om te gaan is Oktober tot Maart, wat die koue maande in hierdie streke is.
- Reël verblyf in ’n kombinasie van stedelike en plattelandse gebiede omdat die Noorderligte beter sigbaar is op die platteland.
- Jy gaan ’n goeie baadjie en skoene nodig hê. In Suid-Afrika is ons keuses beperk omdat ons min sneeu sien. Kyk uit vir:
- stewels met groewe op die sool omdat sneeu seepglad raak wanneer die temperature wissel,
- onderlae en sokkies van suiwer wol
- ’n baadjie wat in toestande onder vriespunt kan werk
- ’n wolmus en -serp.
- Laai ’n selfoontoepassing soos “Aurora Forecast” af wat jou sal wys wanneer die Aurora Borealis op sy beste sigbaar is.
Wat veroorsaak die Noorderligte?
Die son straal klein partikels uit wat die sonwind genoem word. Hierdie partikels reis deur die atmosfeer en bereik soms die Aarde. Die Aarde het ’n magneetveld wat ons teen hierdie skadelike partikels beskerm, maar in die omgewing van die Noord- en Suidpool is hierdie magneetveld op sy swakste. Wanneer die sonwindpartikels die gas in die Aarde se atmosfeer bereik, skep dit energie, wat as lig uitgestraal word. Dis daardie lig wat ons as die Aurora Borealis waarneem.

Die geskiedenis van die verskynsel
Die Aurora Borealis fassineer mense al eeue lank. Die eerste geskrifte waarin daar hierna verwys word, kom uit China en dateer uit die 10de eeu voor Christus. ’n Aantekening in die sogenaamde Bamboesjoernale, wat rekord gehou het van die ryk van koning Zhāo, die vierde koning in die Zhou-dinasie, verwys na ’n vyfkleurige band in die lug wat in die noorde waargeneem word. Navorsers vermoed dat hierdie ’n waarneming van die Aurora Borealis mag wees. In antieke China is sulke verskynsels gesien as die voorspellers van slegte nuus en ’n boodskap uit die hemel.
In die Noorse mitologie is die Noorderligte gesien as die weerkaatsing van die wapenskild van die Valkyries, die mitologiese vroue wat gesneuwelde krygers na Valhalla vergesel het. Inheemse groepe, soos die Inuïete en die Sámi (die inwoners van Lapland), het weer geglo dit is die voorvaders wat met hulle kommunikeer.
Die eerste poging om dit wetenskaplik te verstaan, was waarskynlik die Franse wetenskaplike Pierre Gassendi wat die term Aurora Borealis in 1621 geskep het. Die naam kombineer die naam van die Romeinde godin van die daeraad (Aurora), met die Griekse naam vir die noordelike wind, Boreas.
Dit was Edmund Halley (die ou van Halley se komeet) wat in die 18de eeu vir die eerste keer voorgestel het dat die verskynsel verband hou met die interaksie tussen die aarde se magneetveld en die atmosfeer.
Lees ook
Nike gee ’n groot tree met Mind 001: Skoene wat jou brein en voete verbind
In ’n wêreld waar dra-bare tegnologie (“wearables”) voortdurend grense verskuif, het Nike onlangs hul mees innoverende projek bekend gestel: die Mind 001 en Mind 002.
- 4 months ago
Wil jy ’n hommeltuig koop? Wat sê die SA wet?
As jy jou gedra en jou buurvrou in ag neem, kan hommeltuigkameras ’n hele nuwe wêreld van fotografie vir jou oopmaak.
- 5 months ago
Hier is die grootste reis-trends in 2026 – van solo-avonture tot familievakansies
Die reislandskap verander vinnig in 2026, met reisigers wat meer betekenisvolle, volhoubare en persoonlike ervarings soek as ooit tevore.
- 5 months ago




