Niks op TV nie? Stroom hierdie 4 reekse
Niks op TV nie? Stroom hierdie 4 reekse
Niks op TV nie? Stroom hierdie 4 reekse
Niks op TV nie? Stroom hierdie 4 reekse
Niks op TV nie? Stroom hierdie 4 reekse
Niks op TV nie? Stroom hierdie 4 reekse

Niks op TV nie? Stroom hierdie 4 reekse

Van aristokratiese moordraaisels tot epiese reisavonture, en van skokkende ware misdaad-verhale tot ’n Suid-Afrikaanse tronkontsnappingsdokumentêr wat vreemder as fiksie is – daar is heelwat kykstof wat jy kan stroom.

Daar is skitterende kykstof op die verskillende stroomdienste wat jou naels gaan laat kou en in spanning op jou stoel gaan hou. Daar is vier reekse wat kykers wêreldwyd (en ALLES) se oog gevang het op Netflix, Disney+ en Showmax. Of jy nou lus is vir ’n Britse moordraaisel wat deur die legendariese Agatha Christie geskryf is, ’n adrenalienbelaaide avontuur, of ongelooflike ware-misdaad-inhoud, hierdie reekse stel die standaard van die kykstof wat in 2026 beskikbaar gaan wees. 

Agatha Christie’s Seven Dials 

Waaroor gaan dit? 

Hierdie reeks was vir ’n geruime tyd #1 op Netflix. Lady Eileen “Bundle” Brent bevind haarself in die middel van ’n klassieke moordraaisel wanneer ’n lyk gevind word tydens ’n partytjie op haar spoggerige landgoed. Getrou aan Agatha Christie se legendariese styl, lewer hierdie verwerking van The Seven Dials Mystery kinkels, dwaalspore en daardie bevredigende “a-ha!”-oomblik wanneer al die legkaartstukke uiteindelik in plek val. 

Hoekom moet jy dit kyk? 

Dit is nie net nóg ’n periode-drama nie – dit is ’n meesterklas in hoe om klassieke literatuur te moderniseer sonder om sy siel te verloor. Chris Chibnall (die genie agter Doctor Who en Broadchurch) het ’n reeks geskep wat Christie se 1929-roman vars en toeganklik maak vir nuwe gehore, terwyl hy die ingewikkelde intrige respekteer wat die oorspronklike boek so geliefd gemaak het. Die sterre in die reeks dra ook daartoe by, met Helena Bonham Carter en Martin Freeman wat gravitas bring om die nuweling Mia McKenna-Bruce se boeiende hoofrol te ondersteun. 

Formaat 

Moordraaisel-minireeks met 3 episodes, 14-ouderdomsperk 

Vervaardiger 

Chris Chibnall (Doctor Who, Broadchurch) 

Pole to Pole With Will Smith 

Waaroor gaan dit? 

Will Smith onderneem ’n droomreis: 100 dae en 26 000 myl van die Suidpool na die Noordpool, oor al sewe vastelande. Van ski oor Antarktiese ys tot duik in die Arktiese waters, van bergklim tot ontmoetings met reuse-slange, is dit ’n avontuur-dokkie op sy allerbeste. 

Hoekom moet jy dit kyk? 

Hierdie reeks breek kykrekords op Disney+. Dit is nie net nog ’n Hollywood-ster wat die pad vat nie – dit is ’n vyfjaar-passieprojek wat Smith en kykers tot hul uiterstes dryf. Die reeks kombineer asemrowende fotografie met egte wetenskaplike verkenning, aangesien Smith saam met navorsers en plaaslike kenners werk om van die lewe se grootste vrae oor ons planeet aan te pak. Wat dit laat uitstaan, is Smith se kwesbaarheid: Hy het openlik gesê dat hierdie reis “sy perspektief op die planeet en homself ingrypend verander het”. Dit is dus nie net ’n reis-avontuur nie, maar ook ’n storie oor Smith se persoonlike transformasie. 

Formaat 

Avontuur-dokumentêr met 7 episodes 

Vervaardig deur 

National Geographic/Disney+  

Tracking Thabo Bester 

Waaroor gaan dit? 

Hierdie Showmax-reeks met 4 episodes fokus op een van die mees gewaagde misdaadvoorvalle in Suid-Afrika: die uitgebreide tronkontsnapping van Thabo Bester en die beweerde betrokkenheid van sy vriendin, Nandipha Magudumana. Maak jou reg vir bedrog van etlike miljoene, ’n gesteelde lyk om Bester se dood te vervals, en puik ondersoekende joernalistiek wat die waarheid aan die lig gebring het. 

Hoekom moet jy dit kyk? 

Die reeks wys Suid-Afrika kan wêreldklas reekse skep en dat ons ondersoekende joernalistiek vir geen land s’n terugstaan nie. Die dokumentêr betrek die werklike joernaliste – Marecia Damons en Daniel Steyn – wat die storie gebreek het nadat hulle ’n anonieme wenk ontvang het dat die liggaam in Bester se sel nie syne was nie. Die feite word boeiend en dramaties aangebied. Die reeks was so goed dat Bester en Magudumana probeer het om die uitreiking daarvan te keer, wat net nóg drama daarby gevoeg het. 

Formaat 

Ware-misdaad-reeks met 4 episodes 

Vervaardig deur 

Nikki Comninos (regisseur/Skrywer), IdeaCandy Productions 

Evil Influencer: The Jodi Hildebrandt Story 

Waaroor gaan dit? 

Hierdie ontstellende dokumentêr op Netflix lê die skokkende misdaadsaak rondom Jodi Hildebrandt en Ruby Franke bloot. Franke is die ma agter die gewilde ouerskap-blog en YouTube-kanaal “8 Passengers”. Die film wys agter die fasade van hierdie perfekte sosiale-media-gesin is ’n donker werklikheid wat tot ernstige kriminele klagte gelei het. 

Hoekom moet jy dit kyk? 

In ’n tyd dat kykers vra vir groter aanspreeklikheid vir beïnvloeders en smaakmakers op sosiale media, raak hierdie dokkie ’n baie sensitiewe onderwerp aan: In hoe ’n mate moet jy jou kinders by jou sosiale media-rekeninge betrek. Wat dit besonder boeiend maak – en moeilik om te kyk – is hoe dit die gaping tussen aanlyn-persoonlikhede en die werklike gevolge van sosiale media blootlê. Die dokumentêr vertel nie net ’n misdaadstorie nie, dit dwing kykers om ongemaklike vrae te vra oor sosiale media-kultuur, kinderuitbuiting en die prys van internetroem. 

Formaat 

Vollengte dokumentêr 

Vervaardig deur 

Netflix  

ALLES sê: Jy het geen verskoning om saans te sit en heruitsendings kyk nie. Daar is puik reekse in ’n verskeidenheid genres op stroomplatforms beskikbaar: Van Netflix se uitmuntende literêre verwerking, Disney+ se innoverende avontuur-dokumentêre reeks tot boeiende ware-misdaad-meesterstukke. Die enigste vraag is waar om te begin.