ALLES PROE Lays cheddar-en-bosbessie: Dis ’n ja, máár . . .
Italiaanse truffel-en-knoffel, Argentynse romerige peperbiefstuk, Karibiese uie-en-balsemiekasyn, Lays-aartappelskyfies is bekend vir hul interessante geure. As jy egter nog nie by hul nuwe “Kettle Cooked”-reeks uitgekom het nie, wees gewaarsku: Jy gaan waarskynlik óf dol wees daarop óf dit haat.
Die Kettle Cooked-reeks is in drie geure beskikbaar. Die Seared Rib Eye & Mushroom, en die Sea Salt & Black Pepper is albei heerlik en sal wyd aanklank vind. Haal dit gerus uit die kas vir ’n aand voor die TV of voor die braai. Die derde geur is egter iets meer ongewoons: White Cheddar & Cranberry. Die bosbessiegeur is allesbehalwe subtiel, dis nogal prominent, en as jy die sak oopskeur, is die eerste geur wat jou bereik iets soets.
Hoe proe dit?
ALLES het 12 studente gevra om die skyfies blind te toets, die smaak te beskryf, en te sê of hulle die skyfies sal koop. En die uitslag was omtrent 50-50. Niemand kon die smaak dadelik plaas nie, met sommige wat “toffie-appel”, “spookasem”, “uie”, “appelkooskonfyt” of “blatjang” geraai het. Van die twaalf het sewe egter gesê hulle sal die skyfies koop.
Onder die vyf wat dit nié sal koop nie, het die een se kommentaar dit dalk die beste opgesom: “Ek verwag ’n soutsmaak as ek skyfies eet. As ek iets soets wou geëet het, sou ek lekkers gekoop het.”
ALLES reken Lays White Cheddar & Cranberry is minstens interessant genoeg dat jy dit een keer moet koop en proe.
Lees ook
Ontmoet die perfekte Erfenisdag-spanmaats: Iced Zoo-koekies en die Springbokke
Terwyl ons ons Suid-Afrikaanse erfenis vier, is daar min dinge wat ons só saambring soos rugby en nostalgie.
- 6 days ago
Sit goeie wyn op die ideale manier voor – gee dit lug teen die regte temperatuur
Gerda Engelbrecht Ons het ’n temperatuurbeheerde wynkraffie van Solenco getoets, en dit het een van wynbediening se irriterendste probleme opgelos. ...
- 2 weeks ago
Sewe lekker wyne wat perfek is vir hierdie tyd van die jaar
Lente is hier en ons kan genadiglik na iets ligs, helder en vroliker in die glas gryp.
- 3 weeks ago




