12 Tekkie-trends wat die koppe laat draai
Wil jy stylvol, maar steeds gemaklik wees? Tekkies is ’n móét vir jou klerekas en is deesdae ewe tuis by die braai of in die raadsaal. Hier is die nuutste tendense waarvan jy moet kennis neem.
-
Bruin tekkies
Met “mocha mousse” as Pantone se kleur vir 2025, is bruin tekkies tans groot nuus. Bruin is gesofistikeerd en verrassend veelsydig en kan enige gemaklike uitrusting in stylvolle straatdrag omskep. Die neutrale skakering pas goed by denim, kakie en selfs meer formele broeke, wat dit ’n slim keuse maak wat nog baie seisoene sal werk. Tans is dit nog nie so volop in Suid-Afrika nie, maar die prentjie sal verander wanneer die winter aanbreek.
-
Opvallende rooi tekkies
Wanneer jou voorkoms ’n bietjie energie nodig het, gee rooi ’n vonk. Kyk uit vir bordeaux-rooi of helder vlamrooi! Hierdie waaghalsige keuses werk uitstekend saam met monochromatiese uitrustings in swart, wit of grys, wat die skoene die fokus van jou styl maak. Moenie bang wees om jou skoene in die kollig te sit nie!
-
Retro-tekkies met ’n lae profiel
Retro-tekkies, geïnspireer deur sportstyle van die 60’s en 70’s, is tans geweldig in die mode. Dié ontwerpe bied ’n nostalgiese gevoel en is baie veelsydig – gepas vir sowel die kantoor as naweek-avonture. Nike neem die voortou met die LD 1000’s.
-
Wit of roomkleurige tekkies
Wit tekkies is nog ’n seisoen in die mode. Kyk uit vir slanker profiele, plat veters, en afwerkings in seilstof en gladde leer. Hierdie tekkies is tydloos en pas by alles – van somerrokkies tot formele pakke. Seilskoene is oral welkom, maar hou hulle skitterwit! Kies kwaliteit wat die toets van tyd en gereelde skoonmaak kan deurstaan.
-
Seemsleer-tekkies
Die sagte tekstuur van suede maak enige uitrusting elegant en voeg ’n tikkie sofistikasie by jou voorkoms. Dit werk veral goed in die herfs en winter.
-
Staptekkies
Stapskoene word nou ook straat- en kantoorskoene. Skep ’n “verkeerde skoen”-uitrusting, deur dit met ’n vloeiende rok te kombineer wat ’n kontras skep. Die bonkige silhoeëtte druk ’n sportiewe stempel af op ’n meer gesofistikeerde voorkom. Veral Salomon neem hier die voortou met hul XT-reeks, wat onlangs in Suid-Afrika aangekom het.
-
Metaalkleure
Silwer tekkies is die beste! Kombineer dit met eenvoudige en neutrale kleure. Die blink afwerking gee enige uitrusting glans. Dit is ideaal as jy jou dagklere in aandklere wil omskep. Warm metaalkleure soos goud en roosgoud is ook modenuus.
-
Diervelpatrone
Hierdie seisoen gaan jy diervelpatrone (luiperd, slang, sebra) op enigiets sien – ook jou tekkies. Kombineer dit met min juweliersware, sodat die tekkies die held van jou voorkoms is. Dit gee jou voorkoms ’n tikkie persoonlikheid, terwyl dit ook verrassend neutraal is. Luiperdvel pas by alles.
Miskien? Miskien nie?
Die volgende style maak ook ’n terugkeer, maar stylkenners waarsku dat dit nie vir almal gaan werk nie.
1) Mary Jane of die “sneakerina”
Die ballet-geïnspireerde tekkie is weer in die mode. Dra dit saam met sagte materiaal vir ’n jonger voorkoms. Hierdie vroulike style oorbrug die gaping tussen ’n sportiewe voorkoms en elegansie. Dis veral gewild onder diegene wat tekkies verkies met ’n meer verfynde, delikate voorkoms.
2) Rubbersole
Tekkies met opvallende rubbersole is groot nuus, veral saam met bostukke van seil en egte leer. Die heuningkleurige rubbersole gee ’n klassieke gevoel wat gelyk nostalgies en modern is. Hierdie detail werk veral goed saam met aardse kleure.
3) Skaatsplank-tekkies
Veral Vans neem weer die voortou. Die skaatsplank-voorkoms is koel sonder dat dit te hard probeer. Die bonkige, stewige ontwerpe is perfek vir diegene wat ’n stelling wil maak met hul voorkoms, maar steeds gemaklik wil wees.
4) Boksstyl-steweltekkies
Die atletiese voorkoms van die stewels wat boksers dra, werk baie goed as ’n straatstyl. Dit maak beslis ’n stelling!
As jy belangstel om ’n affiliasie-vennootskap met ons te bespreek, begin deur eers by een van die groot affiliasie-netwerke te registreer. Kontak daarna asseblief ons vennootskapbestuurder by basil.fortuin@media24.com om die gesprek te begin.
Lees ook
Denim in 2026: wat is IN en wat is UIT
Gooi daardie sakkerige denims uit die kas uit – in 2026 swaai die pendulum weg van die oorgroot en verslete style van die afgelope paar jaar.
- 1 week ago
Tik ’n bietjie Netflix aan jou polse – die Bridgerton- en Emily in Paris-parfuumreekse is hier
Netflix het twee van sy mees geliefde reekse, Bridgerton en Emily in Paris, ’n nuwe lewe gegee – met parfuum.
- 3 weeks ago
PDRN in velsorg: Die vernuwing wat jou vel nodig het
As jy op hoogte bly van Koreaanse skoonheidstendense (ook K-tendense genoem), het jy waarskynlik opgemerk dat daar ’n nuwe velsorgliefling is wat oral opduik: PDRN.
- 1 month ago




















