Wil jy ’n hommeltuig koop? Wat sê die SA wet?
As jy jou gedra en jou buurvrou in ag neem, kan hommeltuigkameras ’n hele nuwe wêreld van fotografie vir jou oopmaak. Hier is die 15 Gebooie van Hommeltuie waarvan jy moet kennis neem.
Deur Cyril Klopper, Weg! Ry & Sleep
Om op ’n afgeleë plek te kom – te voet of met jou 4×4 – is een deel van die pret. Die ander deel is om die plek vanuit nuwe hoeke waar te neem en met ’n kamera vas te lê. ’n Lugfoto van jou bosbakkie op die vlakte, ’n geheime kampplek langs ’n rivier of jul dapper konvooi in die Doodsakker gaan mos bakgat lyk.
In Suid-Afrika mag jy ’n hommeltuig sonder ’n vlieglisensie gebruik óf die tuig te registreer – ’n gawe toegewing – maar ongelisensieerde gebruikers met ongeregistreerde hommeltuie word deur streng wetgewing beheer. Hommeltuigvriendelike lande soos Indonesië, Ysland en Switserland laat jou ook toe om ’n hommeltuig sonder ’n lisensie te gebruik óf die hommeltuig by die lugvaartowerheid te registreer, maar daar geniet jy aansienlik meer vergunnings as op eie bodem.
Wees dus gewaarsku: Nie almal hou van jou drone nie, allermins Sanparke, die owerhede en jou buurvrou. Let op die volgende as jy sonder moeilikheid foto’s en video’s met jou hommeltuig wil neem.
Die 15 Gebooie vir hommeltuie in SA
Die Suid-Afrikaanse Burgerlugvaartowerheid onderskei tussen drie soorte radiobeheerde vliegtuie: modelvliegtuie (vir stokperdjies), speelgoedvliegtuie (vir kinders) en RPAS – dit staan vir “remotely piloted aircraft systems” – Burgerlugvaart se benaming vir hommeltuie.
Jy het nie ’n lisensie nodig om ’n doodgewone drone te vlieg nie, tensy jy dit vir kommersiële redes gebruik. Jy moet egter Burgerlugvaart se regulasies gehoorsaam as jy nie wil hê die owerhede moet op jou hommeltuig beslag lê nie. Jy kan boonop ’n boete van tot R50 000 en selfs tronkstraf van tot 10 jaar opgelê word as jy die onderstaande regulasies oortree. Hier volg die 15 gebooie vir ongelisensieerde hommeltuig-entoesiaste – let wel, ongelisensieerd!

- Geen hommeltuig mag nader as 50 m van ’n mens of groep mense af vlieg sonder die toestemmig van daardie mense nie.
- Jy mag nie ’n hommeltuig op private eiendom gebruik sonder die toestemming van die grondeienaar nie.
- Geen hommeltuig mag nader as 50 m van ’n openbare pad af vlieg nie. Gawe grondeienaars mag egter toestemming gee as jy oor hulle private paaie wil vlieg.
- Geen hommeltuig mag nader as 50 m aan enige struktuur (soos ’n huis of kantoorgebou) vlieg sonder die toestemming van die eienaar nie.
- Jy mag nie ’n hommeltuig binne ’n beheerde, beperkte of verbode lugruim gebruik nie. Besoek die webblad www.suasnews.com/dronesafetymap.html om te sien waar hierdie verbode sones is – dit is die geel en rooi dele soos op die kaart hiernaas. Terwyl jy op die internet is, kan jy sommer ook by die Facebook-groep Drones South Africa aansluit om met ervare hommeltuiggebruikers te klets.
- ’n Hommeltuig mag nie binne 10 km van ’n vliegveld, landingstrook of lughawe gebruik word nie.
- Jy mag nie ’n hommeltuig naby ’n bemande vliegtuig gebruik nie. (Ons moet hier herhaal die regulasies is van toepassing op ongelisensieerde hommeltuiggebruikers.)
- Jou hommeltuig mag nie nader as 10 km van ’n kragstasie (ook hidro-, son- of windkragfasiliteite), ’n tronk, grenspos, hawe, polisiestasie, misdaadtoneel, militêre eiendom of enige belangrike nasionale bates vlieg nie. Saam met die verbod naby lughawens kom dit daarop neer dat jy amper nêrens – met enkele uitsonderings – naby stede en groot dorpe met jou drone mag oefen nie. Amper die ganse Gauteng-provinsie is ’n beheerde lugruim en Gautengers moet ry tot by byvoorbeeld Hammanskraal, Middelburg, die Vaaldam of Carltonville vir die naaste ongereguleerde vliegplek. Kapenaars en Durbaniete is beter daaraan toe met ongereguleerde lugruim minder as 20 km buite die stad, mits jy wegbly van natuurreservate (sien hieronder).
- Jy mag geen vliegtuig – beman of onbeman – laer as 2 500 vt. (762 m) bo natuurreservate, nasionale parke en wêrelderfenisterreine vlieg nie. En omdat die vlieghoogte van hommeltuie streng beperk word – sien die volgende regulasie – mag jy dus glad nie in hierdie bewaarareas met jou hommeltuig vlieg nie.
- Jou hommeltuig mag nie hoër as 150 vt. (45 m) in ’n ongereguleerde lugruim vlieg nie.
- Jou hommeltuig mag nie hoër as die hoogste hindernis binne 300 m van jou af vlieg nie.
- Jou hommeltuig moet altyd binne sig bly en nooit verder as 500 m van jou af wees nie. As jy egter ’n piepklein hommeltuig besit, iets soos die DJI Mini-reeks, mag hy nie verder van jou af weg wees as wat jy hom kan sien nie; dié afstand gaan derhalwe aansienlik kleiner as 500 m wees.
- Jy mag slegs vlieg in goeie weerstoestande wat jou toelaat om die hommeltuig binne sig te hou. As jou hommeltuig navigasieliggies het, moet jy hulle te alle tye kan sien flikker.
- Dit is onwettig om iets met ’n ongelisensieerde hommeltuig te vervoer of te laat val.
- En laastens: Jou hommeltuig mag nie swaarder as 7 kg weeg en ’n trefkrag-energie van meer as 15 kJ hê nie.
’n Minder bekende probleem met Burgerlugvaart se regulasies is die sin wat lui: “Jy moet ’n hommeltuig-lisensie hê as daar enige geldelike wins of geldelike belangstelling betrokke is.”
Kry ’n hommeltuiglisensie
Vir ’n hommeltuiglisensie (RPL) moet jy opleiding by ’n geakkrediteerde opleidingsentrum ontvang. Jy moet vlak 4-Engels magtig wees, korrekte radioprosedures onder die knie hê en ’n mediese ondersoek slaag. Die vliegbewys gaan jou tussen R15 000 en R30 000 kos en moet elke paar jaar hernu word. Jy het bo en behalwe die RPL ook ’n ROC (’n RPAS Operator’s Certificate) nodig. Dit maak dus finansieel net sin as jy jou hommeltuig gaan gebruik om materiaal aan kliënte (vir advertensies of TV-reekse, bv.) te skiet. Daar is verskeie vliegskole wat die opleiding bied in Suid-Afrika, wat jy op die internet sal opspoor.

Hou jou hommeltuig weg van nasionale parke
Sanparke neem beslag op besoekers se hommeltuie, selfs al is dit weggebere in sy tassie sonder die eienaar se doelwit om dit binne die park te vlieg. Sanparke voel amper dieselfde oor hommeltuie as vuurwapens: Hulle het geen probleem dat jy een besit nie, jy mag dit net nie park toe bring nie. Sanparke het inderdaad al mense in hegtenis geneem wat hulle drones binne ’n reservaat gebruik.
Luidens ’n persvrystelling van Sanparke: Hommeltuie word verbied ingevolge die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur (die sogenaamde Nema-wet). Met betrekking tot beskermde gebiede word bepaal dat “dit onwettig is om onder 2 500 vt. bo die hoogste punt van enige nasionale park te vlieg met enige vliegtuig of hommeltuig sonder die uitdruklike toestemming van die bestuursowerheid van die betrokke nasionale park” – dus Sanparke – en daarom is hulle wetgewende beskermde gebiede met ’n beperkte lugruim wat hulle geenvliegsones maak vir alle ongemagtigde vliegtuigstelsels.

ALLES se wenke
- Jy sal dalk bogenoemde reëls lees en tot die slotsom kom dat jy op geen plek jou hommeltuig mag vlieg nie en dat dit daarom geldmors is. Onthou egter die een groot reël – jy moet toestemming vra – en deur toestemming te vra van die eienaar kan jy steeds jou drone op heelwat plekke in Suid-Afrika gebruik.
- Kom op hoogte van die reëls as jy die drone oorsee wil gebruik. In Europa is die reëls sagter. Daar geld die meeste van die regulasies nie vir hommeltuie wat minder as 250 gram weeg nie – daarom dat die vervaardigers so ’n lawaai maak oor die feit dat die drone presies 249 gram weeg. Hommeltuie bly ’n heerlike speelding op bv. stapvakansies. In Amerika is die reëls ook taamlik drakonies.
- Dateer alles op voor jy begin vlieg – die app op jou foon, sowel as die sagteware op jou hommeltuig. Kalibreer ook die tuig.
- Wag áltyd totdat die hommeltuig al sy satelliete gevind het en die tannie met die swaar aksent sê “the home point has been updated”. As jy dit nie doen nie, gaan die drone dalk laat spat na die plek waar jy hom laas gebruik het, wat kilometers ver kan wees.
- As jy die klein tuigies vlieg is wind nie jou vriend nie. Laai die app UAV Forecast af – dit gee jou ’n opsomming van die windtoestande by jou huidige ligging. Die app sal slegte vliegtoestande merk met “Not good to fly”. Volg sy raad!
- As jy nog leer vlieg, bly weg van water. Kyk ook uit vir voëls, veral seemeeue val graag die klein tuigies lastig.
Lees ook
Hier is die nuwe MacBook Neo: ’n Intreevlak-rekenaar vir Apple-nuwelinge
Apple het middel Maart sy intreevlak-skootrekenaar, die MacBook Neo, amptelik bekendgestel.
- 5 days ago
Fujifilm se nuwe X-T30 III beïndruk met sy video-eienskappe
Geen kameravervaardiger kry dit reg om ’n retro-voorkoms so mooi te laat lyk as Fujifilm nie, en die parmantige X-T30 III is geen uitsondering nie.
- 4 months ago
Asus Zenbook A14: Klein maar getryn
In ’n era waar mobiliteit en werkverrigting hand aan hand moet gaan soos koffie en beskuit, is die Asus Zenbook A14 ’n buksie wat sy man kan staan en ’n goeie oplossing vir moderne professionele werkers en inhoudskeppers.
- 6 months ago




