Hier is die grootste reis-trends in 2026 – van solo-avonture tot familievakansies
Die reislandskap verander vinnig in 2026, met reisigers wat meer betekenisvolle, volhoubare en persoonlike ervarings soek as ooit tevore. Of jy nou ’n solo-avontuur beplan of ’n familie-wegbreek reël, hierdie jaar se grootste neigings verander die manier waarop ons die wêreld verken. Hier is jou gids tot die grootste reis-trends in 2026.
Reis met KI in die agtersak
Kunsmatige intelligensie het ’n groot omwenteling in die reiswêreld gebring, met 13% van reisigers wat nou KI in hul beplanning gebruik. Hierdie slim hulpmiddels stel nie net bestemmings voor nie, maar skep ook hiper-persoonlike reisplanne wat pas by jou belangstellings, begroting en reisstyl. KI help ook om oor-toerisme te bekamp deur minder bekende bestemmings en alternatiewe aan te beveel.
Topwenk: Gebruik KI-hulpmiddels om minder bekende woonbuurte in gewilde stede soos Lissabon se Príncipe Real-distrik of Tokio se Yanaka-gebied te ontdek, eerder as om in toue te wag in oorvol toeristesentrums.
Volhoubare toerisme kry voorkeur
Met meer as 70% van reisigers wat eko-vriendelike opsies prioritiseer, is volhoubare toerisme meer as net ’n gonswoord. Reisigers verkies deesdae:
- Verblyf met gesertifiseerde eko-akkreditasies
- Koolstofneutrale vlugte en treinreise
- Hotelle met sonkrag en waar kombuise die minimum afval lewer
- Volhoubare toerisme-ervarings wat ekosisteme herstel
Topwenk: Costa Rica neem die leiding met koolstofneutrale toerismedoelwitte, terwyl die Maledive oorde met sonkrag bied. In Europa kombineer Slowenië pragtige natuur met uitmuntende omgewingsbeskerming.

Solo-reise: Avontuurlik, maar steeds veilig
Solo-reise fokus op bestemmings wat opwinding met veiligheid balanseer. Solo-reisigers soek plekke wat ryk kulturele ervarings, natuurlike skoonheid en sterk veiligheidsrekords bied.
Top-bestemmings vir solo-reis in 2026:
- Japan – Uitsonderlike veiligheid, doeltreffende vervoer en eindelose kulturele ervarings.
- Nieu-Seeland – Avontuuraktiwiteite met gevestigde solo-reis-infrastruktuur.
- Kanada – Uitgestrekte natuurlike landskappe en vriendelike, veilige stede.
- Georgië (die land) – Hierdie is ’n onontdekte juweel met ongelooflike gasvryheid en bekostigbaarheid. Hulle speel ook skaflik rugby.
- Slowenië – Dis ’n kleinerige land wat ideaal is vir solo-verkenning en pragtige natuurskoon bied.
Topwenk: Baie lande bied nou apps met veiligheidsmaatreëls vir toeriste, wat waardevol is vir solo-reisigers. Baie van die apps maak dit moontlik dat jy in ’n noodsituasie veiligheidsbeamptes in ’n japtrap na jou GPS-ligging kan ontbied.
Familie-reise: Lekker vir oud en jonk
Familie-reise in 2026 plaas die klem op betekenisvolle ervarings eerder as vol skedules. Ouers prioritiseer:
- Wegbreke in die natuur
- Bestemmings wat buitelug-avonture en wildlewe-ervarings bied
Oorweeg:
- Costa Rica – Nasionale parke met ongewone diere.
- Kanadese Rotsgebergte – Banff en Jasper met gesinsvriendelike staproetes en mere.
- Nieu-Seeland se Suid-eiland – Toeganklike gletsers en avontuuraktiwiteite vir alle ouderdomme.
- Ysland – Geotermiese spa’s en gletserstaptoere vir alle ouderdomme.
- Bali – Gesinsvriendelike oorde met joga-, kookklas- en tempelbesoeke.
- Noordelike Thailand – Eko-lodges in Chiang Mai met olifantskuilings en kulturele ervarings.
Topwenk: Families wat uit verskillende generasies bestaan geniet sloertoere waar jy langer op een plak bly en nie woerts-warts deur stede en lande jaag nie.

Ontluikende bestemmings: Die nuwe versteekte juwele
In 2026 steek reisigers nie vas by die ou bekende vakansiebestemmings nie en soek hulle plekke waar hulle nuwe ervarings kan hê en die skares kan vermy:
- Georgië: Antieke geskiedenis in Tbilisi, wêreldklas-wyn in Kakheti, en berglandskappe in Svaneti.
- Slowenië: Ljubljana en sprokiesagtige Lake Bled.
- Portugal (anderkant Lissabon en Porto): Ontdek die Azore en die Middeleeuse dorp Óbidos.

Digitale swerwers
Afstandswerk het ’n belangrike trend geword met baie van die wêreld se digitale swerwers wat hulle in Kaapstad tuismaak. Sommige lande verslap hul visumvereistes en skep spesiale infrastruktuur om dit moontlik te maak.
Bestemmings vir digitale swerwers:
- Thailand: Bangkok en Chiang Mai het uitstekende gemeenskaplike kantoorspasie.
- Viëtnam: Die land kombineer bekostigbare verblyf met hoëspoed-internetverbindings. Oorweeg Ho Chi Minh-stad.
- Portugal: Lissabon lok baie werkers uit die tegnologiesektor.
- Barbados: Bied ’n jaar lange visum vir digitale swerwers.
Mikro-avonture: Dink groot, dink klein
Reisigers het nie altyd tyd om lank weg te breek nie en mikro-avonture maak dit moontlik om vinnig weg te kom sonder om te veel te beplan, soos:
- Stedelike staproetes in Vancouver of Kaapstad.
- Naweekkampering in nasionale parke.

Nagtoerisme: Die nag se betowering
’n Belangrike reis-trend vir 2026 is die Noorderligte, sowel as nagtoere in Japan.

Sport-toerisme: Hou bene, hou
In 2026 reis mense graag vir marathons en sosiale fietstoere, veral op plekke soos die Switserse Alpe.

Topwenke vir reis in 2026:
- Gebruik tegnologie om reisplanne te maak wat by jou spesifieke behoeftes pas.
- Fokus op volhoubaarheid en ’n klein koolstofvoetspoor.
- Bly langer op minder plekke (sloertoere).
- Verken nuwe bestemmings soos Georgië en Slowenië.
- Kombineer plaaslike avonture met langer wegbreke.
Die reis-trends van 2026 weerspieël mense se groter soeke na betekenis, betekenisvolle konneksies, meer verantwoordelike keuses en ervarings wat ons lewens verryk.
Bronne:
- Global Web Index Travel Trends Report
- Roam Right Solo Travel Trends Analysis
- IGES US Tourism Travel Trends 2026
- Go Ahead Tours Travel Blog
- Accor Travel Trends 2026
- Pick Your Trail Travel Insights
- Stay Upon Sustainable Tourism Report
- Travel Hype Industry Analysis
Lees ook
Nike gee ’n groot tree met Mind 001: Skoene wat jou brein en voete verbind
In ’n wêreld waar dra-bare tegnologie (“wearables”) voortdurend grense verskuif, het Nike onlangs hul mees innoverende projek bekend gestel: die Mind 001 en Mind 002.
- 4 months ago
Wil jy ’n hommeltuig koop? Wat sê die SA wet?
As jy jou gedra en jou buurvrou in ag neem, kan hommeltuigkameras ’n hele nuwe wêreld van fotografie vir jou oopmaak.
- 5 months ago
Noorderligte-ekspedisie – neem behoorlike foto’s van die skouspel
Om goeie foto’s van die Aurora Borealis te neem het jy goeie toerusting, die regte tegniek en hope geduld nodig.
- 5 months ago




