Fujifilm se nuwe X-T30 III beïndruk met sy video-eienskappe
Geen kameravervaardiger kry dit reg om ’n retro-voorkoms so mooi te laat lyk as Fujifilm nie, en die parmantige X-T30 III is geen uitsondering nie. Hierdie buksie is oulik! Maar daar is niks retro aan die funksionaliteit nie – trouens, wat kenmerke betref, boks die X-T30 III in ’n hoër liga as waarvoor hy ontwerp is. Die X-T30 is gemik op ’n intreevlakmark wat hul video- en fotografiegehalte ’n kerf wil opstoot, maar deel kenmerke met duurder, meer professionele Fuji-modelle. In sy persverklaring sê Fujifilm die kamera is ontwerp om aan die behoeftes te voldoen van fotograwe wat nog nie voorheen ’n digitale kamera gebruik het nie, sowel as die meer gesoute fotograwe.
Hier is ’n paar kenmerke wat ons oog gevang het:
- Die X-T30 III is ’n spieëllose kamera wat toegerus is met die nuutste beeldverwerker. Dit word aangedryf deur die betroubare 26.1MP X-Trans CMOS 4-sensor en die hoëspoed X-Processor 5-beeldverwerker, dieselfde prosesseerder wat in die vlagskip Fujifilm X-T5 gebruik word. In vergelyking met die vorige model, het die X-T30 III sy verwerkingspoed omtrent verdubbel en gebruik die kamera die heel nuutste outofokus-tegnologie om die onderwerp heeltyd in fokus te hou.
- Die Film Simulation-draaiknop is aan die linkerkant bo-op die kamera gemonteer, soortgelyk aan die Fujifilm X-T50 en X-M5. Skep ’n deurlopende “voorkoms en gevoel” vir jou sosiale media bladsye deur uit 20 Film Simulation-modes te kies. Die draaiknop sluit drie posisies in, FS1 tot FS3, waar gebruikers hul eie oorspronklike “FS-resepte” kan vaslê om dit keer op keer te gebruik.
- Die X-T30 III is ’n droom vir vloggers. Die standaard-lens is die nuwe ultra-wye XC13-33mmF3.5-6.3-lens. Danksy die nuwe X-Processor 5 het videograwe toegang tot opnames in 6.2K/30P in 4:2:2 10-bit, 4K/60P, sowel as hoë gehalte 1080/240P. Daar is ook ’n 9:16-kortfilmmodus, geskik vir kort video’s wat vir sosiale media geoptimaliseer is. Die kamera bied kragtige elektroniese beeldstabilisering. Dit skakel nie net subtiele handskudding uit nie, maar sal ook seepgladde video verseker wanneer jy loop en praat terwyl jy video opneem.
- Die kamera weeg slegs 378g, lig genoeg om in enige sak of rugsak te gooi. Die standaardlens voeg ’n ekstra 125g by.
- Gewilde kenmerke van vorige modelle, soos die opwipflits en die “AUTO”-modus, is behou in die X-T30 III. In die “AUTO”-modus herken die kamera die onderwerp, spoor dit op, en lê die beeld vas. Die kamera hanteer dus die tegniese aspekte sodat die fotograaf kan fokus op dít wat afgeneem word.
Prys: R19 560 (slegs die kamera) of R23 000 (met die standaardlens).
Lees ook
Hier is die nuwe MacBook Neo: ’n Intreevlak-rekenaar vir Apple-nuwelinge
Apple het middel Maart sy intreevlak-skootrekenaar, die MacBook Neo, amptelik bekendgestel.
- 5 days ago
Wil jy ’n hommeltuig koop? Wat sê die SA wet?
As jy jou gedra en jou buurvrou in ag neem, kan hommeltuigkameras ’n hele nuwe wêreld van fotografie vir jou oopmaak.
- 5 months ago
Asus Zenbook A14: Klein maar getryn
In ’n era waar mobiliteit en werkverrigting hand aan hand moet gaan soos koffie en beskuit, is die Asus Zenbook A14 ’n buksie wat sy man kan staan en ’n goeie oplossing vir moderne professionele werkers en inhoudskeppers.
- 6 months ago




