Hoe slim is Wagter? Doen die hond-IK-toets en kyk!
Ons spog graag met “oubaas se slim honne”, maar hoe intelligent is hulle regtig? En wie is die slimste, katte of honde?
Jy weet jou hond kan nie te dom wees nie omdat hy basiese bevele gehoorsaam soos “sit” en “bly”, ’n woordeskat ontwikkel het en skynbaar begrip het vir menslike emosies soos hartseer. Sommige honde kan selfs aanvoel as jy siek is of pyn het en hou dan ’n wakende oog oor jou. Hulle móét tog intelligent wees?
Eerstens moet jy intelligensie definieer, skryf Brian Hare en Vanessa Woods in The Genius of Dogs: How Dogs are Smarter than We Think. Die voor die hand liggendste teken van honde se intelligensie is dat hulle oor millenniums hul voortbestaan verseker het en in elke uithoek van die wêreld voorkom. Waar ander diere se getalle afneem of uitsterf, raak die hondbevolking wêreldwyd steeds groter. Dit is reeds ’n aanduiding van honde se intelligensie, meen Hare en Woods.
Die neuro-psigiater dr. Stanley Coren skryf ook in The Intelligence of Dogs dat daar meer as een soort intelligensie is en daarom moeilik is om klinklaar te sê die een honderas is slimmer as ’n ander. Coren onderskei tussen drie soorte intelligensie: instinktiewe intelligensie (dit waarvoor ’n hond geteel is), sy aanpasbaarheid (dit wat ’n hond op sy eie kan leer), en sy opleibaarheid (die hond se vermoë om bevele en gehoorsaamheid geleer te word). Wat die eerste twee intelligensies betref, is dit moeilik om tussen honderasse te onderskei, maar jy kan ’n duidelike verskil waarneem wat diere se opleibaarheid betref, sê Coren.
Die A-B-C en die 1-2-3
Die deursneehond het die taalbegrip van ’n tweejarige kind en ’n syferbegrip van ’n kind tussen twee en drie jaar oud, meen Coren. Honde kan gemiddeld 165 woorde aanleer, terwyl die slimste 20% van honde ’n woordeskat van tot 250 woorde het. Die heel intelligentstes kan veel beter doen. ’n Skaaphond met die naam Chaser het meer as 1 000 woorde geleer – die woordeskat van ’n kind van sowat drie jaar oud.
Jou hond sal nie jou kind se skoolwiskunde baasraak nie, maar hy kan tot by vier of vyf tel en verstaan die konsep van plus en minus. As jy twee kosbakke voor hom neersit, sal hy die een met vier blokkies kos verkies bo die een met twee blokkies.

Wie kry akademiese erekleure?
Is die een honderas slimmer as ’n ander? Coren het 208 hondeafrigters gevra om honderasse op ’n ranglys te plaas volgens hul opleibaarheid en gehoorsaamheid. Op hierdie lys het skaaphonde tops uitgekom. Ander rasse op die toptien, was poedels, Duitse herdershonde, Retrievers, Dobermans, Shetland-skaaphonde, papillons (’n soort Spanjoel), Rottweilers en Australiese veehonde.
Aan die onderpunt van die skaal is Afgaanse windhonde (die “mins opleibare hond”), die basenji, bulhond, die Chinese keeshond (“chow chow”), borzoi, bloedhond, Pekinees, beagle, mastiff en Franse dashonde (“basset hounds”). (Die redakteur se honde – worsies en chihuahuas – is onderskeidelik 92ste en 125ste op die lys van 138 honderasse.)

Katte of honde?
Mense baklei soos kat en hond oor watter diersoort slimmer as die ander is. Coren sê dit hang weer af van hoe jy “slim” definieer. Katte is slimmer met die gebruik van hul pote – soos om toutjies te trek of handvatsels te druk. Honde is egter meer opleibaar, meer sosiaal en het ’n beter begrip van mense se taal en gebare. Op grond van die grootte van ’n hond se brein in verhouding tot die grootte van sy lyf, tel honde onder die slimste soogdiere op die planeet. Slegs die mens, die groot primaatsoorte, tornyne en olifante is slimmer as honde in terme van breingrootte.
Kan jy net jonger honde afrig?
Daar steek geen waarheid in die Engelse uitdrukking “you can’t teach an old dog new tricks”, skryf die webwerf PETMD.Com. Nuwe uitdagings en ervarings vorm nuwe neurale verbindings in jou hond se brein – ongeag sy ouderdom. Dit is nie net moontlik om ouer honde af te rig nie, dis ook goed vir hulle omdat dit die agteruitgang van hul verstandelike vermoëns teëwerk.
Die Hill’s Honde-IK-toets
Die webwerf van die troeteldiervoedingspesialiste Hill’s Pet (www.hillspet.com) verskaf 6 take om jou hond se opleibaarheid vas te stel. Dit toets die hond se vermoë om inligting in te neem en te behou, sowel as sy redeneer- en probleemoplossingsvaardighede.
- Trek ’n groot handdoek of kombers oor jou hond se kop. Die taak toets sy probleemoplssingsvermoë.
Punte: Gee jou hond drie punte as hy in minder as 15 sekondes homself kan bevry, twee punte as hy 15 tot 30 sekondes neem, en een punt as hy langer as 30 sekondes neem.
- Plaas twee of drie leë bakke of koppies in ’n ry. Plaas die hond se gunstelingeetding onder een van die houers terwyl die hond toekyk. Trek sy aandag af vir ’n paar sekondes voordat jy hom los om die eetding te soek. Die taak toets sy vermoë om inligting in te win en dit te onthou.
Punte: Hy kry drie punte as hy reguit na die bak met die eetding gaan, twee as hy eers onder een leë bak gesnuffel het, en een punt as hy eers onder albei leë houers gesoek het voordat hy by die regte een uitgekom het.
- Kies ’n vertrek waar jou hond ’n gunstelingplek het, soos ’n kussing. As hy uit die vertrek is, skuif die meubels. Die taak toets sy redeneer- en kognitiewe vermoëns.
Punte: Laat jou hond terugkeer na die vertrek. As hy reguit na sy gunstelingplek gaan, kry hy drie punte. Hy kry twee punte as hy eers ’n rukkie soek voordat hy die regte plekkie kry. As hy tou opgooi of ’n nuwe plek kies, kry hy een punt.
- Steek ’n eetding weg onder ’n lae meubelstuk – net die hond se poot moet onder die meubelstuk inpas. Die taak toets jou hond se redeneer- en probleemoplossingsvaardighede.
Punte: Jou hond kry drie punte as hy in minder as 60 sekondes die eetding met sy poot uithaal. As hy eers sy kop probeer indruk en daarna sy poot gebruik, gee hom twee punte. As hy heeltemal belangstelling verloor, kry hy een punt.
- Kies ’n tyd waarop jy gewoonlik nié met jou hond gaan stap nie, en tel sy leiband op terwyl hy jou sien. Die taak toets sy vermoë om afleidings te maak.
Punte: As hy dadelik besef julle gaan stap en opgewonde raak, kry hy drie punte. As jy eers na die deur moet loop voordat hy opgewonde raak, kry hy twee punte. As jou hond nie besef wat aangaan nie, kry hy een punt.
- Hierdie een verg ’n bietjie werk van jou kant af. Neem ’n stuk karton wat omtrent 1,5 meter breed en wat hoog genoeg is dat jou hond nie bo-oor kan sien nie – ook nie as hy op sy agterbene staan nie. Bou nou ’n “versperring” deur die karton regop te laat staan deur dit aan beide kante aan ’n boks of stoel te anker. Knip nou ’n venstertjie in die karton waardeur jou hond kan sien. Gooi ’n eetding oor die versperring terwyl die hond jou dophou. Die taak toets jou hond se redeneer- en probleemoplossingsvaardighede.
Punte: Jou hond kry drie punte as hy in minder as 30 sekondes uitwerk dat hy óm die versperring moet loop om die eetding te kry. As hy langer as 30 sekondes neem, gee hom twee punte. As hy oor die versperring probeer klim of dit omstoot, kry hy een punt.

Hoe het jou hond gevaar?
Meer as 15 punte: Geluk! Jou hond is geniaal en sal as ’n werkende hond opgelei kan word.
13-15 punte: Jou hond is nie heeltemal Lassy nie, maar hy het steeds ’n goeie kop op sy lyf.
9-12 punte: Jou hond is nie onder die skerpstes nie, maar hy sal darem oor die weg kan kom.
5-8 punte: Jou hond gaan dalk hulp nodig hê om dinge gedoen te kry.
1-4 punte: Ag, wie gee om hoe slim ’n hond is – drukkies en soentjies is al wat saakmaak, nè?

Jean Marie Bauhaus skryf op hillspet.com dat honde wat goed vaar in hierdie toetse, goeie kandidate is om as dienshonde opgelei te word. Maar die toets is nie onfeilbaar nie. Sommige honde is hardkoppig en hul gebrek aan samewerking het niks met hul intelligensie uit te waai nie. Ander meen weer die slimste honde is juis dié wat geduldig wag vir ’n eetding van hul eienaars, sonder dat hulle ’n poot lig om daarvoor te werk. Maar selfs al is jou hond nie die skerpste potlood in die pakkie nie, beteken dit nie dat hy minder lief en lojaal aan jou is nie, sê Bauhaus.
Coren sê ook jy moet glad nie meegevoer raak deur jou hond se intelligensie nie. “Mense vra my dikwels hoekom ek ’n beagle het,” sê Coren. “Beagles is sewende laaste op die lys wat gehoorsaamheid en opleibaarheid betref. Ek het egter nege kleinkinders – ek het ’n hond nodig wat vriendelik, sosiaal en nie te pieperig is nie … dis inderwaarheid vir my ’n pluspunt dat my hond nie onthou die kleintjie wat dóér staan is die een wat ’n uur gelede sy ore getrek het nie.”
Sy raad: As jou hond moet werk, kies een van die slim rasse. Maar slim honde is veeleisende honde. Hulle kort baie aandag en stimulering en is wispelturig. Hulle reageer vinniger . . . op positiewe én negatiewe maniere. As jy nie ’n werkende hond nodig het nie, hou by die rasse wat graag drukkies en slobberige soene uitdeel.
Bronne: petmd.com; hillspet.com; PETSMD; The Genius of Dogs: How Dogs are Smarter than We Think; The Intelligence of Dogs
Lees ook
Soek jy ’n drafmaat? Dié 6 honde is die beste
Sommige honde is gebou vir spoed, ander vaar beter met ’n stadige, bestendige pas.
- 4 weeks ago
Troeteldierkos: Ontsyfer die etiket
Vind jy die inligting op troeteldierkosetikette verwarrend?
- 4 weeks ago
16 Dinge wat jou hond wil hê jy moet weet (en 9 dinge van die kat)
Hulle kan nie self praat nie, maar daar is ’n paar dinge wat jou hond en kat vir jou wil sê .
- 5 months ago




