ALLES PROE Lays cheddar-en-bosbessie: Dis ’n ja, máár . . .

ALLES PROE Lays cheddar-en-bosbessie: Dis ’n ja, máár . . .

Italiaanse truffel-en-knoffel, Argentynse romerige peperbiefstuk, Karibiese uie-en-balsemiekasyn, Lays-aartappelskyfies is bekend vir hul interessante geure. As jy egter nog nie by hul nuwe “Kettle Cooked”-reeks uitgekom het nie, wees gewaarsku: Jy gaan waarskynlik óf dol wees daarop óf dit haat.

Die Kettle Cooked-reeks is in drie geure beskikbaar. Die Seared Rib Eye & Mushroom, en die Sea Salt & Black Pepper is albei heerlik en sal wyd aanklank vind. Haal dit gerus uit die kas vir ’n aand voor die TV of voor die braai. Die derde geur is egter iets meer ongewoons: White Cheddar & Cranberry. Die bosbessiegeur is allesbehalwe subtiel, dis nogal prominent, en as jy die sak oopskeur, is die eerste geur wat jou bereik iets soets.

Hoe proe dit?

ALLES het 12 studente gevra om die skyfies blind te toets, die smaak te beskryf, en te sê of hulle die skyfies sal koop. En die uitslag was omtrent 50-50. Niemand kon die smaak dadelik plaas nie, met sommige wat “toffie-appel”, “spookasem”, “uie”, “appelkooskonfyt” of “blatjang” geraai het. Van die twaalf het sewe egter gesê hulle sal die skyfies koop.

Onder die vyf wat dit nié sal koop nie, het die een se kommentaar dit dalk die beste opgesom: “Ek verwag ’n soutsmaak as ek skyfies eet. As ek iets soets wou geëet het, sou ek lekkers gekoop het.”

ALLES reken Lays White Cheddar & Cranberry is minstens interessant genoeg dat jy dit een keer moet koop en proe.