Troeteldierkos: Ontsyfer die etiket

Troeteldierkos: Ontsyfer die etiket

Vind jy die inligting op troeteldierkosetikette verwarrend? Hier is alles wat jy moet weet!

Almal wil hê ons troeteldier moet gesond wees en lank leef. Nes by mense, speel ’n voedsame dieet ’n belangrike rol. Maar die groot verskeidenheid troeteldierkos op die mark kan oorweldigend wees. En duur! Hoe op aarde neem ’n mens ’n ingeligte besluit wat ook jou begroting sal laat klop?

Toemaar, daar is hoop: Die Suider-Afrikaanse Vereniging van Troeteldierkosvervaardigers (PFISA) het dié lys saamgestel om verbruikers te help om daardie verwarrende etikette te ontsyfer.

Maak seker jy gee jou troeteldier die regte hoeveelheid kos.

 

Wees op die uitkyk vir:

  • Die hoeveelheid onverwerkte proteïen, vog, onverwerkte vet, onverwerkte vesel en onverwerkte as moet aangedui word. Voedingstowwe wat heel dikwels opsioneel aangedui word, is onder meer kalsium, fosfor en tourien.
  • Die bestanddele moet in hul makroformaat aangedui word. Dit sluit in graansoorte, plantaardige en vleisprodukte, minerale en vitamiene.
  • Voedingsriglyne moet ingesluit word. Dis uiters belangrik dat jy dit volg om seker te maak jy gee jou troeteldier die regte hoeveelheid kos. Die riglyne hou verband met die kos se samestelling en word gegrond op die dier se gewig, ouderdom en soms die ras. Die aanbevole daaglikse hoeveelheid kan in twee of drie maaltye verdeel word. Die meeste duurder soorte het ’n hoër vet- en proteïenvlak en dus ’n groter voedingswaarde per 100 g. Dit beteken die maaltye is gewoonlik kleiner. Wanneer ’n mens uitwerk hoe ekonomies ’n bepaalde soort kos is, moet jy die grootte van die verpakking in ag neem asook die koste per kilogram en hoeveel jy jou dier op ’n keer moet voer.
  • Die vervaldatumstempel is ’n gehaltewaarborg en dui aan hoe oud die kos is. Ná hierdie datum is die voedingswaarde dalk nie meer dieselfde as waarop die vervaardiger aanspraak maak nie.
  • Die aard van die kos moet beskryf word (droog, halfnat, geblik of gevries) en of dit die volle voedingswaarde het of net ’n aanvulling is. Kos met volle voedingswaarde sal aan al jou troeteldier se voedingsbehoeftes voldoen, terwyl ’n “aanvulling” beteken dit moet saam met ander kos of aanvullers gegee word of net per geleentheid, soos bederfies.
  • Gesondheidsaansprake, soos dat dit siektes kan genees, behoort nie op die verpakking te verskyn nie. Daar is wel party kossoorte wat ontwikkel is om sekere gesondheidstoestande te help beheer. En party kosse is geregistreerde voorskrifkosse vir hierdie doel.

Die vervaardiger hoef nie aan te dui of hulle lid is van die PFISA nie. Tog beteken lidmaatskap hulle verbind hulle tot die vervaardiging van veilige gehaltekos. Kyk op die vereniging se webtuiste, pfisa.co.za, of hulle lid is.