Die beste staproetes ter wêreld: ’n Gids wat jou sal inspireer
Ontdek meer as 70 epiese roetes in Afrika, Europa, Japan en die VSA – alles in een glanstydskrif.
Stap is moontlik die beste ding wat jy vir jouself en jou gesondheid kan doen – en die wetenskap beaam dit. Gereelde stap word verbind met ’n 47% laer algehele sterfterisiko, ’n beduidende afname in kardiovaskulêre siekte, laer voorkoms van tipe 2-diabetes, en selfs ’n 38% laer risiko vir demensie. Dit verlig depressie en angs, verlaag bloeddruk, verbeter jou aërobiese fiksheid en help jou beter slaap. Maar vra enige gesoute stapper wat hulle eintlik oortuig om hul stewels aan te trek, en jy kry ’n ander soort antwoord: die stilte van ’n bergpad ná ’n week in ’n raserige kantoor; ’n vreemdeling wat ’n vriend word êrens tussen die een herberg en die volgende; en landskappe so asemrowend dat dit jou siel roer.
Dít is wat stap eintlik vir jou doen. En dít is waaroor Epic Hikes gaan.
Eers ’n belydenis. Ek is ’n Camino-verslaafde. En dit het toevallig gebeur.
My eerste Camino was, volgens enige objektiewe maatstaf, ’n ramp. Ek het nie behoorlik geoefen nie, het my op Dag 2 beseer, en basies tot in Santiago de Compostela aangesukkel op ’n dieet van pynstillers en tortilla de patatas. In die laaste kilometer voor die katedraal het ek myself plegtig belowe: Nóóit weer nie.
Toe stap ek tot op die plein en iets verander. Iets wat ek steeds sukkel om in woorde vas te vang. Die seer in my bene, die weke op die pad, die mense wat ek ontmoet het – dit het alles gekristalliseer in een van die mees aangrypende ervarings van my lewe. Ek wou dit weer doen.
Sedertdien het ek sewe Caminos te voet voltooi en een per fiets. Ek kry eenvoudig nie genoeg nie. Ek het vir myself die ambisieuse doelwit gestel om elke erkende Camino-roete te voltooi – wat, kom ek toe agter, ’n probleem is, want elke jaar ontdek ek nóg Camino-roetes om by die lys te voeg. Daar is ook roetes in Japan. En die VSA. En Engeland – wie sou kon droom dat die Britse Eilande ’n stappersparadys is?
Die lys het ‘Epic Hikes’ geword
Wat is Epic Hikes? Dink daaraan as ’n boektydskrif – dis deels tydskrif, deels boek – en 100% gewy aan die asemrowendste staproetes op die planeet. Met 164 bladsye is dit die produk van jare se navorsing en ’n diep, diep passie vir die wêreld se grootste staproetes. Dit is méér as net ’n koffietafelboek. Dis ’n bron van inspirasie en – as jy soos ek is – die begin van ’n baie lang emmerskoplys.
Hier is wat jy binne kan verwag
- Suid-Afrika en Afrika – Ses van die mooiste staproetes in ons land. En ja, ons weet daar is baie meer – ons susterpublikasies Weg! en go! dek dit. Maar as jy gereed is om jou grense verder te verskuif, oortuig ons jou dalk om noord te kyk na die kruin van Kilimandjaro.
- Die Britse Eilande – Vyftien merkwaardige roetes, insluitende die onlangs herontdekte The Old Way, ’n Middeleeuse pelgrimsroete wat op ’n eeue-oue kaart gevind is. Daar is ook iets oor klassieke roetes soos die Coast to Coast, End to End, en nog baie ander juwele oral Engeland, Skotland, Wallis en Ierland.
- Europa – Van die dramatiese Alta Via in Italië tot die sagte skoonheid van die Pieterpad in Nederland. Daar is ook eeue oue paaie wat deur Sint Francis van Assissi en die monnike gestap is. Epic Hikes sal jou aan ’n paar nuwe roetes voorstel.
- Die Caminos – Bekommerd dat die Camino Francés dalk te besig geraak het? Jy is nie alleen nie. Epic Hikes verken meer as 20 alternatiewe Camino-roetes, elk met sy eie geskiedenis, karakter en siel.
- Japan – Die eeue-oue Kumano Kodō en die meditatiewe Shikoku Henro-pelgrimstog bied ’n stapervaring anders as enigiets in Europa of Amerika. Diep geestelik, verstommend mooi en heeltemal onvergeetlik.
- Die VSA – Alles is groter in Amerika, en sy staproetes is geen uitsondering nie. Epic Hikes stel jou voor aan twee van die wêreld se mees legendariese langafstandroetes: die Appalachian Trail en die Pacific Crest Trail.
Elke inskrywing volg ’n duidelike, praktiese struktuur – totale afstand, begin- en eindpunte, moeilikheidsgraad, ’n skof-vir-skof-uiteensetting, hoogtepunte, en een kernfeit wat jy wil weet vóór jy gaan. Ons lys ook die belangrikste hulpbronne om jou reis te beplan. Net genoeg om jou aan die gang te kry.
Epic Hikes is ’n hou-boek – die soort tydskrif waarna jy keer op keer sal terugkeer vir inspirasie. Dit is die perfekte geskenk vir die stapper, die dromer of die gesondheidsbewuste avonturier in jou lewe. Druk dit in ’n Kerskous, gee dit vir ’n vriend wat aanmoediging nodig het om van die rusbank te kom, of bederf jouself met 164 bladsye van stap-plesier.
Beskikbaar by alle groot supermarkte, of bestel jou eksemplaar aanlyn by die Media24-winkel
Lees ook
Murdoku kombineer Sudoku met ’n moordraaisel – en dit is verslawend
Daar is ’n nuwe soort raaiselspeletjie beskikbaar, en Sudoku‑liefhebbers gaan mal daaroor wees.
- 5 days ago
Doen nóú jou huiswerk om die meeste uit Swart Vrydag te haal
Swart Vrydag is net ’n paar weke weg, en hoewel die dag waansinnig kan raak, kan ’n bietjie voorbereiding nou die verskil beteken tussen werklike besparing en met jou hande in die hare sit.
- 3 weeks ago
Ontmoet MINNEE – die nuwe modepop wat ons almal stileerders gaan maak
Afika Jadezweni Welkom in Suid-Afrika, liewe MINNEE, die piepklein modepop wat olie gaan gooi op die vuur van ons obsessie om alles ’n bietjie meer ...
- 2 months ago





