Vreemd of fantasties? Puma laat die oë rek met sy nuutste tekkie
Die bekendstelling van die eerste koolstofplaat-tekkies in 2016 het kwaai mededinging onder die groot handelsmerke in die sportwêreld veroorsaak. Tekkie-ontwerpe het toenemend uitspattig geword. Maar Puma loop tans loshande voor in die wedloop om die vreemdste draftekkies. Ontmoet die FAST-RB NITRO Elite 2.
Dit moet deel van ’n snaakse Halloween-kostuum wees, want 1 April is lankal verby, was my eerste reaksie toe ek die FAST-RB NITRO Elite 2 sien.
“Wat is jou kostuum veronderstel om te wees?”
“Die toekoms van atletiek. En ’n wipmat. En ek-het-R7500-gehad-om-te-blaas.”
Jy kan nie hierdie Pumas miskyk nie. Maar sodra jy verby die visuele skok kom – en ja, mense gaan na jou staar by jou plaaslike Parkrun – is daar werklik fassinerende ingenieurswerk waarvan jy moet kennis neem.
Wat laat hulle so bisar lyk?
Die koolstof-PWRPLATE eindig nie onder die voorvoet soos by konvensionele koolstofplaattekkies nie. Dit strek verby die toon. Dit steek letterlik uit. Dit skep ’n werklike hefboom- en wipmat-effek: Die plaat laai namate jou voet vorentoe rol en ontlaai tydens die wegstootfase, soos ’n duikplank wat terugspring.
Puma beskryf dit as “twee saamgesmelte koolstofveselplate wat ’n springplankstruktuur vorm”. Danksy die kombinasie van die koolstofplate met ’n 40 mm-sool van NITROFOAM Elite-skuim by die hak, is die energieteruggawe dramaties teen vinniger tempo’s. Volgens Puma het hulle in hul eie toetse ’n noemenswaardige verbetering in hardloopekonomie gesien, wat dit die doeltreffendste skoen in hul hele pad-hardloopreeks maak.

Die tegnologie agter die malligheid
Puma betree hiermee “die volgende hoofstuk in innovasie wat die reëls oorskry” met die FAST-RB NITRO Elite 2. Die skoen is in Puma se NITRO Lab ontwikkel en verteenwoordig twee jaar se innovasie, laboratoriumtoetse en terugvoering van atlete.
Die NITROFOAM ELITE-skuim is ontwerp om groter energieteruggawe te lewer, en die verfynde geometrie skep ’n gladder, meer responsiewe loopervaring. Die herontwerpte ULTRAWEAVE-bostuk is liggewig en haal asem, terwyl die PUMAGRIP-buitesool jou traksie op verskeie oppervlakke sal bied.
Romain Girard, visepresident van innovasie by Puma, sê: “Met die FAST-RB 2 wou ons reël-oorskryding na die volgende vlak neem. Deur die ontwerp te vereenvoudig en ons NITROFOAM-tegnologie meer ruimte te gee om te presteer, het ons ’n skoen geskep wat die hoogste energieteruggawe lewer wat ons nog ooit in ons toetse aangeteken het – en dit alles in ’n ongelooflik liggewig-pakket.”
Teen 250 g vir ’n grootte 8 en 206 g vir ’n grootte 4.5, met ’n 8 mm-hak-tot-toon-daling, is die spesifikasies beslis indrukwekkend op papier.
Die olifant (of eerder die wipmat) in die vertrek
Dis hier waar dinge interessant raak. Diep in Puma se eie amptelike aankondiging is ’n taamlik belangrike detail versteek: “Voldoen nie aan wedloop-reëls nie.”
Die verlengde koolstofplaat wat verby die toon strek, oortree die regulasies van Wêreldatletiek en die IAAF vir amptelike wedlope. Puma het letterlik ’n skoen van R7 500 met ’n lewensduur van 320 km geskep wat jy nie mag gebruik in die amptelike wedlope waarvoor dit ontwerp is nie.

Nou, om billik te wees: Baie tekkies volg nie al die reëls streng nie. Regulasies oor soolhoogte word byvoorbeeld gereeld gerieflik geïgnoreer. Maar “gewone drawwers” gebruik wel hierdie “ontoelaatbare tekkies” in wedlope, en kom daarmee weg. Want kom ons wees eerlik: As jy in Groep H by jou plaaslike marathon wegspring, gaan Wêreldatletiek nie juis oor jou tekkies gepla wees nie.
Hierdie is egter anders. Die FAST-RB NITRO Elite 2 is nie ’n skoen vir die stadige agterhoede nie. Teen daardie prys en met daardie prestasiespesifikasies is dit duidelik gemik op ernstige drawwers wat persoonlike bestes en plekke op die podium najaag – juis die mense wat dit dalk in amptelike wedlope sou wou gebruik.
ALLES sê
In wese het Puma die duurste spoedsessie-tekkie tot dusver gemaak. Dink daaraan as jou geheime wapen vir tempo-, intervalsessies en baanoefeninge. Dis ’n ook iets wat die koppe sal laat draai en wat ’n gesprek om die braaivleisvuur sal begin. ’n Laboratoriumeksperiment met ’n prysplakker.
En eerlikwaar? Ons is hier vir dit!
Sedert 2016 is die kompetisie tussen skoenvervaardigers skouspelagtig en ’n wedloop op sy eie. Nike het met die Vaporfly die deur oopgemaak, en elke handelsmerk gooi sedertdien ingenieurs met doktorsgrade na die probleem. Hierdie soort grensverskuiwende innovasie – selfs wanneer dit lei tot ’n tekkie wat lyk asof dit uit skaamte van jou voet probeer weghol – is waar die grootste tegnologiese deurbrake gebeur.
Vandag se “ontoelaatbare tekkie” word môre se baanbreker. Die innovasies wat in hierdie skoene getoets word, sal waarskynlik deursyfer na toekomstige modelle wat wel aan die regulasies voldoen. En intussen kan jy almal laat wonder of jy van jou sinne beroof was.
Die FAST-RB NITRO Elite 2 is op 28 Oktober 2026 bekendgestel, met beperkte pare wêreldwyd beskikbaar op PUMA.com, in uitgesoekte Puma-winkels en by uitgesoekte kleinhandelaars in die VSA, Brittanje, Sentraal-Europa, Skandinawië, Suid-Amerika, Thailand, Japan, China en Australië. Puma Suid-Afrika, ons sal dit graag onder oë wil hê!
Tegniese spesifikasies
- Prys: €350 (tans nie in SA beskikbaar nie)
- Gewig: 250 g (8) / 206 g (4.5)
- Hak-tot-toon-daling: 8 mm
- Skoen se lewensduur: 320 km
- Wedloop-wettig: Nee
Hierdie artikel is nie geborg nie. Alle opinies is dié van die redaksie.
Lees ook
GETOETS: MeacoFan Sefte 8: Die waaier wat sy man kan staan
Ons het hierdie draagbare lessenaarwaaier in ’n kantooromgewing getoets – en dit is werklik uitstekend.
- 23 hours ago
Doen nóú jou huiswerk om die meeste uit Swart Vrydag te haal
Swart Vrydag is net ’n paar weke weg, en hoewel die dag waansinnig kan raak, kan ’n bietjie voorbereiding nou die verskil beteken tussen werklike besparing en met jou hande in die hare sit.
- 5 days ago
Nike se Swooshfly meen supertekkies het ook voordele vir stadiger drawwers. Wat sê die wetenskap?
Gerda Engelbrecht By Nike se jongste produkbekendstellings was die nuwe Apex en Alphafly 4 dalk die hoof-trekpleister, maar dit is die nuwe Swooshfly ...
- 4 weeks ago




