Nike se Swooshfly meen supertekkies het ook voordele vir stadiger drawwers. Wat sê die wetenskap?
Gerda Engelbrecht
By Nike se jongste produkbekendstellings was die nuwe Apex en Alphafly 4 dalk die hoof-trekpleister, maar dit is die nuwe Swooshfly wat die kollig gesteel het. Nike se jongste koolstofplaat-superskoen is op 30 September 2026 aangekondig en word in Februarie 2027 wêreldwyd beskikbaar gestel. En hierdie een is nié op elite-atlete gemik nie. Dit is ’n dapper koersverandering. Atlete wêreldwyd vra nou: Kan stadiger drawwers werklik baat vind by koolstofplaat-superskoene, of is dit bloot slim bemarking wat in ’n dik laag skuim toegerol is?
As iemand wat onlangs weer begin draf het ná jare van stap, is dit iets waaroor ek ook wonder. Ek draf tans gemiddeld 7 minute per kilometer oor 10 km (báie stadig, vir dié wat niks van draf weet nie) – en raak daarna beduidend stadiger. Ek oefen vir ’n 21 km vroeg in 2027, met die idee in my agterkop dat ek wil kyk of ’n volle marathon in 2028 realisties en binne bereik is vir my. Wanneer ’n sporthandelsmerk dus beweer hul koolstofplaat-superskoene is op hardlopers soos ek gemik, het hulle my aandag. Maar wat sê die wetenskap?
Waarom skoene met koolstofplate oorspronklik vir elite-atlete gereserveer is
Toe Nike die eerste Vaporfly en Alphafly bekend gestel het, was die biomeganiese logika eenvoudig: ’n koolstofplaat word in ’n dik middelsool van hoogs veerkragtige skuim ingebou. Dit het die vermoë om energie te berg en deur die voorvoet vry te stel, wat die atleet met elke tree vorentoe dryf. Om dié meganisme te ontsluit, moet daar egter voldoende krag deur die voorvoet wees. Dit beteken in breë trekke dat jy vinnig moet hardloop en op jou voorvoet moet land, soos elite-langafstandatlete doen.
Aanvanklik is geglo stadiger drawwers het eenvoudig nie die meganiese krag wat nodig is om die plaat se veerkrag te benut nie. Erger nog, daar is geglo die rigiditeit van die plaat kon ’n stadiger atleet se natuurlike hardloopstyl ontwrig en die lading herverdeel sonder om die beloofde energie-terugkeer te lewer. Vroeë navorsing het dié versigtigheid in breë trekke ondersteun, en superskoene is algemeen beskou as toerusting wat net beskore is vir die groep wat ’n marathon binne drie uur kan hardloop. Dus . . . meer Gerda Steyn en minder Gerda Engelbrecht.

Waarom die wetenskap nou anders dink
Die wetenskap het sedertdien tot ander gevolgtrekkings gekom, wat goeie nuus bevat vir die skildpad-groepie.
’n Meta-ontleding van 14 studies in 2026 in Frontiers in Sports and Active Living het bevestig dat skoene met koolstofplate die metaboliese vereistes van submaksimale draf met gemiddeld sowat 2,75% verlaag in vergelyking met skoene sonder koolstofplate. Belangrik is dat dit oor ’n wye reeks snelhede gegeld het, insluitend stadige drafpasse van so laag as 7,5 km/h. ’n Afsonderlike studie uit 2026 het ’n konsekwente afname van 2,5% in suurstofkoste oor al die getoetste snelhede aangemeld, wat daarop dui dat die metaboliese voordeel nie verdwyn namate die pas stadiger word nie.
In praktiese terme: vir ’n marathonatleet van vier uur beteken ’n doeltreffendheidswins van 2,75% ’n moontlike verbetering van meer as sewe minute. Dit is nie min nie.
In ’n studie wat in 2025 in Footwear Science verskyn het, is bevind dat ontspanningsdrawwers ’n beter hardloopekonomie in skoene met koolstofplate behaal het teen snelhede van so laag as 10 km/h, met laer harttempo’s en ’n laer waargenome inspanning teen bestendige oefenpasse. Dit wys dat die voordeel ook merkbaar is in hoe hard ’n lopie werklik vóél, nie net in ’n laboratorium nie.
Waar dit ingewikkelder raak
Jy moet egter steeds versigtig wees. Volgens ’n studie wat in 2026 in BMC Sports Science, Medicine and Rehabilitation gepubliseer is, verskil die manier waarop die liggaam by die rigiditeit van ’n koolstofplaat aanpas, aansienlik volgens ervaringsvlak. Mense wat al jare lank draf, het by die enkel en voorvoet aangepas – presies waar die skoen ontwerp is om jou te help. Beginners het egter ’n groter meganiese inspanning by die knie getoon, wat groter druk op die knieë plaas.
Eenvoudig gestel: As jy onlangs begin draf het, absorbeer jy dalk die skoen se rigiditeit deur jou knie, eerder as wat jou voorvoet daarby baat vind. Dit kanselleer nie noodwendig die metaboliese voordele uit nie, maar dit veroorsaak vraagtekens oor hoe jou knieë oor langer afstande gaan reageer.
In ’n oorsig wat in 2026 in Frontiers in Sports and Active Living gepubliseer is, is geen konsekwente, algemene veranderings in gewrigsmeganika gevind nie. Dit wys dat aanpassings van drawwer tot drawwer kan verskil. Hoe jou liggaam reageer, hang af van hoe jou voet land, hoeveel treë jy per minuut gee, jou liggaamsgewig (sug!) en die spesifieke plaatontwerp – nie bloot net of ’n skoen koolstof in die middelsool het nie.
Is dié skoene dus nuttig vir ’n hardloper soos ek?
Eerlik? Dalk, maar met belangrike voorbehoude.
Die metaboliese voordele is werklik en gedokumenteer teen passe wat met myne vergelykbaar is. Om minder moeg te voel oor 10 km, of om jou lang drafsessie op ’n Saterdag klaar te maak met nog iets in die tenk, maak saak wanneer jy vir ’n halfmarathon oefen.
Maar die bevinding oor druk op die knieë laat my huiwer. As iemand wat steeds basiese fiksheid en stamina opbou, is my biomeganika waarskynlik nader aan dié van ’n “beginner” as aan dié van “ervare” atleet – ongeag hoeveel kilometers ek al op staproetes afgelê het. Die rigiditeit in die koolstofplaat wat ’n meer ervare hardloper bevoordeel, kan nou dalk meer druk op my knieë sit.
Die praktiese gevolgtrekking: Dit gaan van individu tot individu afhang. Navorsers beveel deurgaans aan dat jy verskeie skoene oor ’n paar weke teen jou werklike oefenpas toets, en nie net op ’n winkelvloer nie. As jy enigsins iets ongewoons by jou knieë opmerk, is koolstofplaatskoene dalk nie vir jou nie.
Ek weet dus nog nie of ’n skoen soos die Swooshfly vir my sal werk nie. Maar daar is wel iets wat ons met oortuiging kan voorspel. Die oorspronklike Alphafly het die wêreld van langafstandatletiek heeltemal op sy kop gekeer en tot reusagtige mededinging onder skoenvervaardigers gelei, wat die skoene meer toeganklik gemaak het. Die Swooshfly, met sy uitdruklike fokus op gemak, stabiliteit en toeganklikheid (teen sy oorsese prys van $145 gaan dit veel goedkoper as sy mededingers wees), gaan beslis die intreevlak-skoenmark ook met ’n knal tref. As dit slaag, kan verwag word dat elke groot handelsmerk sal volg met sy eie beginnersvriendelike koolstofplaat-wedloopskoen: ’n heel nuwe skoenkategorie spesiaal vir die ouens wat laaste wegspring by ’n marathon. En met die wêreldwye groter belangstelling in die langafstand-wedlope, is ons heeltemal in ons noppies daarmee.
Dit is die moeite werd om dop te hou, selfs al is jy nog nie gereed om te koop nie.
Hierdie artikel is nie geborg nie. Alle menings is dié van die redaksie.
Foto’s: nike.com

Lees ook
Nuwe Apples: Moet jy die iPhone 18 Pro koop, of wag vir die Duo?
Gerda Engelbrecht Apple het weer die tegnologiebedryf aan die praat nadat die maatskappy by sy tradisionele September-uitreikings nie een nie, maar tw...
- 2 weeks ago
Sit goeie wyn op die ideale manier voor – gee dit lug teen die regte temperatuur
Gerda Engelbrecht Ons het ’n temperatuurbeheerde wynkraffie van Solenco getoets, en dit het een van wynbediening se irriterendste probleme opgelos. ...
- 2 weeks ago
Ek het die Garmin Edge 1050 oor 230 km en 17 en ’n half uur getoets – en dís waarom ek mal daaroor is …
Hoe die Garmin Edge 1050, oftewel “Antie G”, ons deur ons vyfde TransBaviaans gekry het Karin Burger Daar is ’n rede waarom die TransBaviaans as...
- 1 month ago




