Ek het die Garmin Edge 1050 oor 230 km en 17 en ’n half uur getoets – en dís waarom ek mal daaroor is …
Hoe die Garmin Edge 1050, oftewel “Antie G”, ons deur ons vyfde TransBaviaans gekry het
Karin Burger
Daar is ’n rede waarom die TransBaviaans as die taaiste enkelskof-bergfietswedren in die land beskou word – party mense sal selfs sê in die wêreld. Die uitmergelende roete strek oor 230 km van Willowmore deur die Baviaanskloof tot by Jeffreysbaai, alles binne 24 uur – beslis nie vir bangbroeke nie.
Ek was opgewonde om in 2026 aan my vyfde TransBaviaans deel te neem en my spesiale vyf-wedren-skild te ontvang. Maar Moeder Natuur het ’n stok in ons speke gedruk. Die Baviaanskloof-natuurreservaat is gesluit weens vloedskade, en die 2011-roete is vir slegs die tweede keer in die wedren se geskiedenis van 22 jaar gebruik. Die 2026-TransBaviaans het die alternatiewe “Langs Baviaans-roete” gevolg, al langs die noordoostelike hange van die Baviaanskloofberge. Dit was steeds 230 kilometer lank, maar die 2026-deelnemers wat klaargemaak het, was dit eens dat dit veel moeiliker was.
Die wedrenorganiseerders het dit duidelik gestel dat alle deelnemers ’n fietsrekenaar sou nodig hê wat ’n GPX-lêer kan lees om by die eindstreep uit te kom. Ek ken Garmin se horlosiereeks – ek het dit nog altyd gebruik om afstand, spoed, hartklop, ensovoorts te meet – maar vir hierdie wedren het ek die Garmin Edge 1050-fietsrekenaar gekies om my en my spanmaat oor die rowwe, onbekende roete te lei. Ons wou die toestel ’n naam gee, aangesien dit so ’n belangrike lid van ons span sou wees. Ons het aanvanklik daarna as “Antie Garmin” verwys, en toe word dit sommer “Antie G”. Ek weet – nie ’n sexy naam vir so ’n sexy fietsrekenaar nie, maar daar is baie respek en vertroue in die naam “Antie”.

Teen die tyd dat ons begin trap het, het ek die roete afgelaai en myself met die toestel se navigasie vertroud gemaak. Ek hou baie van die skermgrootte – groot genoeg om maklik te lees vir iemand wat ’n leesbril dra. Ek gee ekstra punte vir die skerpheid, helderheid en duidelikheid in alle ligtoestande. Selfs in die skerp middagson was die skerm maklik leesbaar. Deur die eerste 140 km het ons baie stof teëgekom, en met ’n vinnige vee met ’n nekdoek was die raakskerm weer skoon.
Terug by die navigasie, en waarom ek hierdie toestel gekies het. Die akkuraatheid en gerief is ongelooflik. Die aanwysings verskyn tydens die rit op die skerm, met volskerm-aansigte vir komende draaie wat oor die kaart gelê word. “Auto Zoom” pas die kaart se zoemvlak outomaties aan wanneer jy draaie nader, of jy kan dit afskakel vir volle handbeheer.
Halfpad deur die wedren het die terrein regtig rof geraak, en om veiligheidsredes moes jy jou oë op die roete en jou hande op die stuur hou. Dit is waar die hoorbare, gesproke aanwysings werklik ons basse gered het. Jy kan ’n mans- of vrouestem kies, en daar is verskeie tale en dialekte beskikbaar. My spanmaat het die vrouestem gekies. Hy het tong in die kies gesê hy is ná jare van getroude lewe gewoond daaraan om bevele van ’n vrouestem te ontvang – en die vrouestem het perfek by die bynaam Antie G gepas. Ek het die volume harder gestel, en die ingeboude luidspreker is goed genoeg om die draai-vir-draai-aanwysings duidelik te hoor: Jy weet presies wanneer jy moet draai en in watter rigting, en kry waarskuwings wanneer jy ’n bestemming nader. As jy liewer nie ’n stem wil hê nie, kan jy dit met pieptone vervang.
Hulp op die Neverender
Omdat ek nie baie tyd gehad het om die Garmin Edge 1050 voor die wedren behoorlik te verken nie, was die ClimbPro-funksie op meer as een manier ’n openbaring. Die beplanner help jou om jou inspanning op klimme te beheer. Dit was veral nuttig op die wrede 17 km lange klim teen die Father of All Climbs, kort daarna gevolg deur die Neverender. Die ClimbPro-skerm verskyn outomaties wanneer jy begin klim. Dit wys die oorblywende afstand van die huidige opdraand, die oorblywende styging – die vertikale meters wat nog geklim moet word – die huidige helling, oftewel die gradiëntpersentasie in reële tyd, ’n visuele profiel van die klim wat wys waar jy daarop is, en ekstra datavelde, gewoonlik gradiënt en hoogte bo seespieël. Dit het ook gewys watter opdraandes voorlê, sodat jy jou geestelik en fisiek kon voorberei, met kennis van die lengte, gradiënt en totale styging van die volgende segment voordat jy dit aanpak.
Ná 17 uur en 28 minute het ek, my spanmaat, sowel as Antie G die eindstreep by Mentors Country Estate in Jeffreysbaai bereik. Haar battery was op 55% – baie indrukwekkend, aangesien ons byna agt uur lank in nagmodus gery het, wat ’n helderder skerm gee.
Om daardie eindstreep oor te steek, raak nooit oud nie. Daar is die uitputting, die verligting, die stille tevredenheid van die wete dat jy deur iets gedruk het wat die meeste mense nie eens sou aandurf nie. En hierdie keer was daar die vyf-wedren-skild – ’n stuk metaal en hout wat baie betekenis dra. Vyf keer begin. Vyf keer klaargemaak. Elke enkele een is op die harde manier verdien.
Dankie, Antie G
Ek het by die einstreep besef hoeveel ek van hierdie jaar se suksesvolle klaarmaak aan Antie G verskuldig is. Op ’n roete wat nie een van ons voorheen gery het nie, met toestande wat enige oomblik kon skeefloop, was daardie klein toestel op my stuur die ding waarop ons kon reken. Dit het vir ons gesê waarheen om te gaan, hoe ver ons nog oor het, hoeveel opdraand nog voorlê, en wanneer om terug te hou of deur te druk. Dit het ons nie een keer in die steek gelaat nie. In ’n wedren waar die verskil tussen klaarmaak en nie klaarmaak nie op ’n enkele verkeerde draai kan neerkom, is dit alles werd.
Ek het ’n fietsrekenaar nodig gehad om my van die wegspring tot by die eindstreep te kry, maar met die Garmin Edge 1050 het ek soveel meer gekry. Ek ontdek steeds elke dag nuwe funksies – dinge wat ek nie eens geweet het ek nodig het nie, maar waarsonder ek my nou nie kan indink om te ry nie. Ek is seker as ek hard genoeg soek, sal ek iewers nog op die koffieknoppie afkom.
Is die Edge 1050 die geld werd? As jy so nou en dan op ’n Sondagoggend om die blok ry, waarskynlik nie. Maar as jy aantree vir iets soos die TransBaviaans – of enige rit waar verkeerd ry nie ’n opsie is nie – dan beslis, elke sent. Antie G het haar plek in die span verdien, en sy sal daar wees vir nommer ses. Buite wedrenne is die Edge 1050 net so tuis op ’n fietstoer – ’n al hoe gewilder manier om vakansie te hou – waar betroubare navigasie, lang batterylewe en draai-vir-draai-aanwysings broodnodig is.
Garmin Edge 1050 – die spesifikasies
Skerm: 3,5 duim transmissiewe LCD-raakskerm, 1 000 nete
Resolusie: 480 x 800 pixels
Afmetings: 60,2 x 118,5 x 16,3 mm
Gewig: 161 g
Batterylewe: Tot 20 uur met veeleisende gebruik; tot 60 uur in batterybespaardermodus
Battery: 3 000 mAh-litiumioon
Interne berging: 64 GB
GPS: Multiband-GNSS: GPS, GLONASS, Galileo
Konnektiwiteit: ANT+, Bluetooth, Wi-Fi
Waterbestandheid: IPX7
Laai: USB-C
Prys: R16 499
Hierdie artikel is nie geborg nie en bevat geen geaffilieerde skakels nie. Alle menings wat uitgespreek word, is dié van die redaksie.
Lees ook
Die 20-minuut-venster: Waarom jou wyn net vir ’n paar minute perfek smaak
GETOETS: As jy jou gereeld met duur wyn bederf, behoort jy jou ook te bederf met ’n toestel waarmee jy dit behoorlik kan bedien.
- 6 days ago
Die Canon PowerShot V1 gee jou baie kamera vir min geld
Deur Gerda Engelbrecht Die Canon PowerShot V1, wat in April 2025 vrygestel is, is dalk nie die nuutste kamera op die mark nie, maar dis tans teen ’n...
- 7 days ago
Om net jou gewig te meet is nie genoeg nie – dié skaal vertel die volle waarheid oor jou gesondheid
Gerda Engelbrecht Niemand klim graag op ’n skaal nie. Maar as jy jou tot ’n gesonder leefstyl verbind, ken jy daardie liefde-haat-verhouding. Jy h...
- 2 weeks ago




