Noorderligte-ekspedisie – neem behoorlike foto’s van die skouspel
Om goeie foto’s van die Aurora Borealis te neem het jy goeie toerusting, die regte tegniek en hope geduld nodig. Hier is alles wat jy moet weet.
Watse toerusting het jy nodig?
- Kamera: Volraamkameras (“full frame”) vaar beter in swak lig, maar APS-sensor-kameras (“crop sensors”) neem ook uitstekende fotos. Dis belangrik dat jy die kamera moet kan verstel – dit kan dus nie ’n mik-en-druk wees nie. Die kamera moet ’n ISO van minstens 3200 hê. Dit sal ’n bonus wees as die kamera weerbestand is. Die kamera moet sy sluiter onbepaald kan oophou – kyk uit vir ’n B (“bulb mode”) by sy verstellings, of dit moet versoenbaar wees met ’n afstandbeheerde sluiter.
- Lens: Jy kort ’n wyehoeklens met ’n groot lensopening (f2/8, f1.8 of f1.4). Goeie opsies is die Canon RF 15-35 mm f2.8, Nikon Z 14-24 mm f2.8 of Sony FE 16-35 mm f/2.8
- Driepoot of boontjiesakkie sodat jou kamera lang tye botstil kan staan. ’n Koolstof-driepoot is ’n goeie belegging, want dis lig en duursaam. Kyk dat die driepoot minstens 1.5x die gewig van jou kamera en lens kan dra.
- Afstandbeheerde sluiter vir jou kamera. As jy die sluiter op jou kamera gebruik, is dit baie moeilik om die kamera doodstil te hou.
- Ekstra batterye – batterye raak ekstra vinnig pap in die koue. Dra die ekstra batterye op jou lyf om dit warm te hou
- Weerbestande klere: handskoene met vingerpunte wat jou steeds toelaat om jou kamera te verstel, stewels, goeie baadjie
Hoe maak jy
- Stel jou kamera op M (manuel).
- Kies jou grootste beskikbare lensopening (bv. F2/8).
- Begin met ’n ISO van 800 – jy kan die ISO later opskuif as jy nie duidelike foto’s kry nie. As die ISO te hoog is, sal die foto greinerig wees.
- Stel die sluiterspoed. Begin met ’n spoed van tussen 10 en 20 sekondes. Of gebruik die afstandbeheerde sluiter om die sluiter nog langer oop te hou.
- Fokus deur die lens op oneindig te stel.
- Stel die witbalans op daglig of auto.
Wenke
- Die beste tyd van die dag om die Noorderligte af te neem, is gewoonlik tussen 22:00 en 02:00.
- Hou die app dop om te sien wanneer die son-aktiwiteit op sy beste is.
- Kyk uit vir interessante elemente in die voorgrond, soos bome of berge, of statiese goed soos skeepswrakke wat die foto diepte kan gee. Eksperimenteer met ’n persoon wat met ’n kopflits sowat 100 meter van die kamera af staan.
- Gebruik die beginsel van drie derdes, maar plaas die lig oor twee derdes van die foto’s
- Neem verskeie foto’s. Die eerste paar gaan dalk nie reg wees nie. Hou die sluiterspoed vir langer tye oop.
- Beskerm jouself en jou toerusting in die koue. Jy gaan lang tye buite wees en het ekstra lae klere nodig. Beskerm jou kamera deur dit toe te draai in plastiek as dit vogtig buite is.
- Wees geduldig.
ONTHOU
Kondensasie beskadig jou kamera! Die geboue in daardie streke het lugversorging wat die hitte binne die gebou op somertemperature hou. Beskerm jou kamera teen kondensasie deur dit geleidelik aan die warmer gebou bloot te stel. Dra ’n ziplock-sak in jou jas se sak en plaas jou kamera binne die sak voor jy ingaan by ’n gebou. Hou die kamera vir ’n minuut of twee onder jou baadjie wanneer jy instap sodat dit geleidelik warm kan word.
Belê in toerusting
Lense
Jy gaan ’n wyehoeklens met ’n groot lensopening nodig hê. Dit is ’n groot bonus as die lens teen die weer beskerm is. Hierdie lense is gewoonlik van glas en daarom duurder.
Voorbeelde van lense wat sal werk:
- Canon EF 16-35mm f/2.8L III USM
- Canon EF 24mm f/1.4L II USM
- Nikon AF-S NIKKOR 14-24mm f/2.8G ED
- Nikon AF-S NIKKOR 20mm f/1.8G ED
- Sony FE 16-35mm f/2.8 GM
- Sony FE 24mm f/1.4 GM
- Fujifilm XF 16mm f/1.4 R WR
- Fujifilm XF 10-24mm f/4 R OIS WR
Driepoot
Kyk uit vir iets wat stewig, maar steeds lig is. Kyk na die driepoot se vragdravermoë en bereken of dit jou kamera + lens kan dra. As jou driepoot in die sneeu omslaan, is jou toerusting waarskynlik daarmee heen.
Manfrotto Element MII (aluminium)
Prys: R3395 by Orms
Afstandbeheer
Maak seker die afstandbeheerder werk op jou kamera.
Hahnel-afstandbeheerder vir Canon
Prys: R625 by Orms
Lees ook
Nike gee ’n groot tree met Mind 001: Skoene wat jou brein en voete verbind
In ’n wêreld waar dra-bare tegnologie (“wearables”) voortdurend grense verskuif, het Nike onlangs hul mees innoverende projek bekend gestel: die Mind 001 en Mind 002.
- 4 months ago
Wil jy ’n hommeltuig koop? Wat sê die SA wet?
As jy jou gedra en jou buurvrou in ag neem, kan hommeltuigkameras ’n hele nuwe wêreld van fotografie vir jou oopmaak.
- 5 months ago
Hier is die grootste reis-trends in 2026 – van solo-avonture tot familievakansies
Die reislandskap verander vinnig in 2026, met reisigers wat meer betekenisvolle, volhoubare en persoonlike ervarings soek as ooit tevore.
- 5 months ago




