Het jy nuwe oorfone nodig? Hier is die beste keuses vir elke behoefte en begroting

Het jy nuwe oorfone nodig? Hier is die beste keuses vir elke behoefte en begroting

Deur Dennis Cavernelis

Daar is nie een stel oorfone wat vir almal gaan werk nie. Met skynbaar eindelose soorte en handelsmerke – met of sonder ’n koord, oor-die-oor, binne die oor – is dit nie altyd maklik om een te vind wat perfek vir jou en jou begroting is nie.

Neem hierdie in ag . . .

 

  • Waarvoor gebruik jy dit? Vir rekenaarspeletjies, musiek luister vanaf jou foon, musiek luister vanaf jou tuis-musieksentrum, TV kyk, aanlyn vergaderings vir jou werk, of iets vir die kinders? Daar is ’n paar vir omtrent elke doel.
  • Gerieflikheid is belangrik. As jy die oorfone vir ure aaneen gaan dra, moet jy een vind wat goed pas, nie jou ore platdruk of jou laat sweet nie, nie van jou kop afgly nie, en nie jou hare deurmekaar maak nie.
  • In of op? As jy nie hou van iets wat jou ore bedek of in jou ore is nie, kan beengeleiding- en ander oop-oor-oorfone ’n beter opsie wees.
  • Met of sonder ’n koord? Oor die algemeen het oorfone wat met drade koppel, ’n beter klank omdat hulle nie funksies soos Bluetooth-konnektiwiteit of Aktiewe Geraaskansellasie het nie, maar daar is ook koordlose oorfone met uitstekende klankgehalte. Onthou dat koordlose oorfone, hoewel hulle ure gebruik kan word sonder om in te prop, van batterye afhanklik is wat mettertyd herlaai sal moet word.
  • Kenmerke: Vir werk en rekenaarspeletjies is oorfone met ’n mikrofoon of agtergrondgeraas-uitskakeling waarskynlik die beste; vir die meeste ander gebruike is ’n mikrofoon nie nodig nie. Aktiewe Geraaskansellasie is ’n ander gewilde funksie, maar hou in gedagte dat oorfone wat álle geraas uitskakel, so skaars soos hoendertande is.
  • Beheer: Verkies jy knoppies of raakpanele waarmee jy die volume kan verstel of liedjies kan oorslaan? As jy kan, toets albei soorte voordat jy besluit. Oor-die-oor-ontwerpe het normaalweg groter oppervlakke waarop verstelknoppies aangebring kan word.
  • App-versoenbaarheid: Sommige oorfone, maar nie alle nie, het ’n bypassende app wat jou toelaat om die klank te verstel.

 

Beste vir Speletjies

HYPERX CLOUD STINGER 2

Die HyperX Cloud Stinger 2-oorfone het ’n koord en voldoen aan al die vereistes vir gamers – dit is versoenbaar met alle speletjieplatforms, bied duidelike en indrukwekkende klankgehalte, en sy sagte geheuespons- en premium leer-afwerking is gemaklik genoeg dat jy dit heeldag kan dra. Die oorkussings kan 90° draai om gemaklik op jou bors te rus wanneer dit om jou nek is.

’n Aktiveringskode wat by die oorfone ingesluit is, bied twee jaar toegang tot DTS Headphone: X Spatial Audio-sagteware, “wat beter persepsie, bewustheid en verdieping” belowe.

As jy die mikrofoon draai, skakel dit outomaties af, en al die knoppies vir verstelling sit op die oorfone. Hierdie oorfone is ook gerieflik lig en weeg net 275g.

R1 000, evetech.co.za, hpshop.co.za

Beste vir Werk

LOGITECH ZONE WIRELESS 2

Die belangrikste vereistes vir kantoor-oorfone is dat jy oproepe van ’n skootrekenaar of selfoon moet kan maak en antwoord terwyl jy gemaklik kan hoor en gehoor word te midde van agtergrondgeraas.

Hierdie koordlose Bluetooth-oorfone (wat ook met ’n koord gebruik kan word) spog met KI-geraasonderdrukking, vier geraas-kansellerende mikrofone en aktiewe geraas-kansellasie (ANC), wat jou in staat stel om ongestoord te werk in ’n rumoerige omgewing.

Die Aktiewe Geraaskansellasie het ’n hibriede modus wat jou toelaat om agtergrondgeraas te verminder na gelang van jou behoefte – as jy verkies, is daar ’n deursigtigheidsmodus wat jou toelaat om meer te hoor van wat om jou aangaan.

Sy koordlose reikafstand is ’n indrukwekkende 50m.

R6 700, logitech.com/en-za, firstshop.co.za, pcinternational.co.za

 

Beste vir Ateljee-gebruik

SONY MDR-7506

Sony is al langer as 30 jaar die handelsmerk wat die standaard stel vir ateljee-gebruik, en hierdie oorfone is bekend vir akkurate, gedetailleerde klankreproduksie van bas- tot hoë frekwensies, sowel as uitstekende geraasisolasie. Dis is perfek vir mense wat in ateljees met musiek of podsendings werk, of enige musiekliefhebbers wat uitstekende klank kan waardeer.

R3 000, takealot.com, orms.co.za

 

Beste Oor-die-Oor

JBL TOUR ONE M2

Met sy gemaklike pasvorm en indrukwekkende battery-lewe van tussen 30 en 50 uur is hierdie die oorfone wat jy nodig het as jy ure lank na musiek wil luister.

Die JBL-app laat jou toe om die EQ-verstellings aan te pas en verbeter die klank, wat reeds puik is wanneer jy die oorfone die eerste keer aanskakel. EQ – wat met klankbalans te doen het – is ’n hulpmiddel wat jou toelaat om die volume van klankfrekwensies te verfyn.

Dit het stembeheer via die Siri- en Google Assistant-funksies, is toeganklik met die druk van ’n knoppie, en dit is uitstekend vir foonoproepe omdat die ingeboude mikrofone agtergrondgeraas merkwaardig goed uitskakel.

Omdat dit waterbestand is, kan jy dit ook langs die swembad of op die strand gebruik (maar moenie daarmee swem nie).

R4 500, amazon.co.za, makro.co.za, incredible.co.za, takealot.com

Beste Geraaskansellasie

Sony WH-1000XM6

Die prys laat beslis die oë traan, maar as werkverrigting en gerief vir jou belangrik is, is dit die stel vir jou. Hierdie Sony-oorfone bied die gerief van koordloosheid sonder om enige klankgehalte prys te gee. Dit het ’n lang batterylewe – 30 uur – en is ontwerp om maklik op te vou. Dit is daarom ideaal vir reis, en beskik oor ’n kombinasie van verstelbare knoppies en raakbeheer.

R10 000, istore.co.za, makro.co.za, incredible.co.za

Beste vir TV-kyk

Sennheiser RS 120-W

Hierdie stel is ideaal vir iemand wat TV wil kyk sonder om ander in die huishouding te steur, of vir kykers wat verkies om die klank harder te draai vir daardie raserige aksiefliek.

Anders as konvensionele Bluetooth-oorfone, het hierdie stel ’n basis wat direk in jou TV of TV-klankstelsel ingeprop word en outomaties aan die oorfone koppel. Die oorfone herlaai ook op die voetstuk.

Anders as baie ander Bluetooth-oorfone wat aan jou TV gekoppel word, is daar geen merkbare vertraging tussen die klank en beeld nie.

R3 000, marshallmusic.co.za, amazon.co.za, takealot.com

 

Beste vir Kinders

JLAB JBUDDIES

Natuurlik kan gewone oorfone op jou kind se kop pas, maar hierdie stel is spesiaal ontwerp vir kleiner koppe – vir kinders tussen 2 en 12 – en dit het ’n volume-beperkingsfunksie vir gehoorveiligheid, veral vir kinders wat dikwels oorfone gebruik.

Dis ook ideaal vir jong gamers, met oorkussings wat gemaklik pas, geen merkbare vertraging tussen die klank en beeld nie, 22 uur se speeltyd, plus ’n ingeboude mikrofoon wat weggevou kan word.

’n Ingeslote Aux-kabel maak dit versoenbaar met alle speletjiestelsels.

R750, takealot.com, picknpay.co.za, incredible.co.za

Beste Sakpas-oorfone

SOUNDCORE SPACE ONE

Hierdie Bluetooth-oorfone bied uitstekende waarde vir geld en het fantastiese klank. Dit het ’n versoenbare app om jou klankvoorkeur te verfyn, en die stel is lig, met sagte, gemaklike geheuespons-oorkussings en meer as 40 uur se battery-lewe.

Dit het ook verrassend goeie Aktiewe Geraaskansellasie vir die prys, en die drie mikrofone werk goed vir telefoonoproepe.

R2 000, clicks.co.za, makro.co.za, incredible.co.za