Boodskap uit die boendoes: Ontmoet die nuwe Garmin InReach Mini 3 Plus
In ’n noodgeval kan dit ’n kwessie van lewe en dood wees om ’n boodskap by die regte mense uit te kry. Op ’n afgeleë plek sal jou selfoon jou dalk in die steek laat. Dis dan wanneer ’n satelliettoestel jou lewe kan red.
Vir jare was die staatmaker vir satellietkommunikasie ’n oranje-en-swart buksie wat mín kon doen, maar dit perfek gedoen het: Dit stuur jou ligging na mense wat moet weet en laat jou toe om van enige plek op aarde ’n teksboodskap te stuur. Garmin se jongste produk, die InReach Mini 3 Plus, verteenwoordig egter die grootste sprong in die reeks tot nou toe. Dit verander die toestel vanaf iets wat jy vir ’n noodsituasie byderhand hou, tot in iets wat jy meer dikwels kan gebruik om te kommunikeer.
As jy voorberei vir ’n meerdaagse stap of ’n afgeleë solo-ekspedisie, kom die keuse tussen die klassieke Mini 2 en die bygewerkte Mini 3 Plus neer op hoe belangrik dit vir jou is om ekstra gewig saam te dra. Hier is die belangrikste nuwe eienskappe van die Inreach 3 Plus:

Dit gee jou toegang tot kaarte
Die feit dat jy nou kaarte op die skerm kan sien, is die belangrikste verandering vanaf die Mini 2 na die Mini 3, hoewel dit meer gesien moet word as iets wat vir jou wys waar jy is, as ’n GPS wat vir jou gaan sê om links of regs af te draai. Terwyl die Mini 2 slegs ’n broodkrummelspoor bied (’n eenvoudige lyn wat wys waar jy geloop het), gebruik die Mini 3 Plus sy nuwe kleurskerm om ’n basiese wêreldkaart te wys. Dit beteken jy kan jou ligging relatief tot belangrike landmerke, paaie of kuslyne sien. Onthou egter die kaart is redelik vereenvoudig om geheue en battery te spaar. As jy TopoActive-kaarte met baie detail nodig het, sal jy steeds die toestel aan die Garmin Explore-toepassing op jou foon moet koppel.
Dit werk nou met ’n raakskerm en nie net knoppies nie
Die Mini 2 het ’n swart-en-wit skerm wat jy met knoppies langs die kant moet navigeer. Dis betroubaar, maar dit vat ’n tydjie om ’n boodskap getik te kry omdat jy telkens deur die alfabet moet blaai.
Die Mini 3 Plus het ’n 1,9 duim-raakskerm in kleur. Dit verander die gebruikservaring heeltemal. Jy kan ook nou boodskappe op ’n Qwerty-sleutelbord tik. As jou slimfoon se battery pap is of nie ’n sein het nie, kan jy boodskappe vinnig uittik – baie minder omslagtig as met die Mini 2.
Nie meer net teks nie, nou ook foto’s en stemnotas
Die “Plus” in die nuwe model verwys na ’n groot sprong vorentoe in datavermoëns. Dis die eerste keer dat ’n toestel van hierdie grootte stemboodskappe van tot 30 sekondes en foto’s per satelliet kan stuur en ontvang.
Terwyl die Mini 2 streng beperk is tot teks en GPS-koördinate, laat die Mini 3 Plus jou toe om die atmosfeer van jou reis (of die omvang van jou krisis) te deel. Jy kan ’n foto van ’n besering stuur en raad vra, of na ’n stemnota van die huis luister. Hierdie funksie vereis die Garmin Messenger-toepassing, maar die foto’s kan (teen ’n laer resolusie) direk op die toestel se nuwe kleurskerm gesien word.

Presisie in die gramadoelas
Onder die enjinkap het die navigasietegnologie ’n professionele gehalte hupstoot gekry. Die Mini 3 Plus gebruik multi-band (dubbel-frekwensie) GNSS. In praktiese terme beteken dit dat die toestel meer effektief met satelliete kan kontak maak in moeilike omstandighede, diep valleie, digte boskappe of hoë pieke waar seinweerkaatsing tradisionele GPS bemoeilik. Die Mini 2 is hoogs bekwaam, maar die Mini 3 Plus bied die soort presisie wat gewoonlik slegs in duur toestelle beskikbaar is.
Grootte, gewig en betroubaarheid
Ten spyte van die nuwe tegnologie het Garmin die Mini 3 Plus merkwaardig kompak gehou. Dit het ongeveer 25 gram gewig aangesit, wat die totaal op ongeveer 125g te staan bring. Vir die meeste stappers en fietsryers is dit ’n geringe en onbeduidende verskil, maar as jy “ultralig” wil reis, sal jy steeds met die Mini 2 kan regkom.
Die batterylewe van albei modelle is indrukwekkend. Hoewel die raakskerm en gevorderde GPS op die Mini 3 Plus meer krag benodig, het Garmin dit met ’n groter interne battery toegerus om voorsiening te maak daarvoor. Albei toestelle gebruik USB-C-herlaaiers, wat dit maklik maak om met ’n standaard kragbank aan te vul.
So vergelyk hulle
| Inreach Mini 2 | Inreach Mini 3 Plus | |
| Prys | Sowat R8 799 (kyk uit vir uitverkopings) | R12 499 |
| Gewig | 100g | 125g |
| Skerm | 0.9” x 0.9” S&W | 1.52” x 1.14” Kleur-raakskerm |
| Werk met | Knoppies | Raakskerm + knoppies |
| Battery | 1250 mAh (sowat 12 dae) | 1800 mAh (sowat 13 dae) |
| Krag | 1.51 watt | 2.63 watt |
| GPS | Standaard | Veel-band GNSS |
| Kaarte | Gee | Topografies |
| Teksboodskappe | Ja (met knoppies) | Ja (met raakskerm) |
| Stemboodskappe | Nee | Ja (via satelliet) |
| Foto-boodskappe | Nee | Ja (via satelliet) |
| Noodsirene | Nee | Ja (95dB) |
| Foon-herlaaiing | Nee | Ja (USB-poort) |
| Luidspreker/mikrofoon | Nee | Ja |
| Waterdigtheid-gradering | IPX7 | IP67 |
| Haak (karabinier) | Ja | Ja |
| SOS Noodsein | Ja | Ja |
ALLES sê:
Die inReach Mini 3 Plus is die beter keuse as jy ’n kommunikasietoestel soek waaemee jy in verbinding met die mense by die huis kan bly. Dis maklik om te werk en boodskappe te deel as jy in gebiede reis waar jy nie selfoonsein het nie. Die raakskerm en die toevoeging van kaarte maak dit die moeite werd om meer te betaal vir die nuwe toestel. As jy egter net iets soek wat jy in jou rugsak of die 4×4 se paneelkissie laai vir noodgevalle (en hoop om dit nooit te gebruik nie), is die InReach Mini 2 steeds ’n fantastiese keuse. Jy sal dit nou boonop dalk op uitverkoping vind. Onthou dat jy steeds ’n datakontrak nodig het om die InReach Mini te laat werk.
Prys
Koop die Inreach Mini 2 vir sowat R7499 en die Inreach Mini 3 vir sowat R10 999 by Takealot.com
Hierdie artikel is nie geborg nie, maar bevat geaffilieerde skakels. As jy ’n aankoop deur ‘n skakel maak, sal ALLES ’n klein kommissie verdien sonder dat jy iets ekstra betaal. Alle menings is dié van die redaksie.
Lees ook
Oog op die toekoms: Hoe adidas se Wêreldbeker-sokkerbal die sport verbeter
Sokkerballe wat ingeprop moet word om te laai voor ’n wedstryd is niks nuuts nie.
- 1 week ago
Hoekom ek verkeerd was oor die DJI Neo 2
Dit gebruik steeds ’n 1/2-duim-sensor, maar ’n groot verbetering in die hardeware verander DJI se jongste sakpas hommeltuig, die DJI Neo2, van ’n liggewigspeelding in ’n werklik nuttige kamera.
- 1 week ago
Nuwe skootrekenaars in 2026: Drie baanbrekers waarvan jy moet weet
Die eerste helfte van 2026 het ’n paar werklik uitsonderlike skootrekenaars opgelewer wat die moontlikhede van draagbare rekenaars herdefinie...
- 4 weeks ago




