Hoekom ek verkeerd was oor die DJI Neo 2
Hoekom ek verkeerd was oor die DJI Neo 2
Preview Thumbnail
Hoekom ek verkeerd was oor die DJI Neo 2
Hoekom ek verkeerd was oor die DJI Neo 2

Hoekom ek verkeerd was oor die DJI Neo 2

Dit gebruik steeds ’n 1/2-duim-sensor, maar ’n groot verbetering in die hardeware verander DJI se jongste sakpas hommeltuig, die DJI Neo2, van ’n liggewigspeelding in ’n werklik nuttige kamera.

Ek sal eerlik wees: ek was aanvanklik nie oortuig nie. Toe die oorspronklike DJI Neo verskyn het, was dit op papier ’n puik hommeltuig. Teen 135 gram was dit uiters lig en klein genoeg om in ’n baadjiesak te pas. Maar die oomblik wanneer jy na die werklike beeldmateriaal gekyk het, het die illusie verbrokkel. Daardie eerstegenerasie-1/2-duim-sensor het video gelewer wat onmiskenbaar “sag” gelyk het. In swak lig was dit eenvoudig power. Hoewel dit ’n prettige klein speelding was om rond te vlieg, was die foto’s en video’s eenvoudig nie goed genoeg om in enige soort semiprofessionele omgewing te gebruik nie.

Toe ek dus die spesifikasies vir die DJI Neo 2 sien en besef dit gebruik steeds dieselfde 1/2-duim-sensor, het ek belangstelling verloor. Hoekom gister se onvoldoende tegnologie in ’n nuwe verpakking koop? Maar toe begin ek werklike, indrukwekkende beeldmateriaal op YouTube sien wat mense daarmee in die praktyk geskiet het. Die skerpheid, die kleurverwerking en die stabiliteit het gelyk asof dit aan ’n heeltemal ander klas hommeltuig behoort. Ek was beïndruk.

Dit blyk DJI het nie ’n groter stuk silikon nodig gehad om die beeldgehalte reg te stel nie – hulle moes net ’n paar dinge rondom dit verbeter.

Waarom die beeldgehalte aansienlik verbeter het

Die enorme sprong vorentoe in videogehalte kom neer op drie groot hardeware-opgraderings wat die beste uit die 1/2-duim-sensor haal:

Die 2-as-meganiese skarniergewrig (“gimbal”): Die eerste Neo het op ’n enkele as staat gemaak wat net kon kantel. Elektroniese beeldstabilisering (EIS) moes die beeld digitaal aanpas om die sywaartse rolbeweging reg te stel. Die Neo 2 het nou ’n 2-as-skarniergewrig. Deur sowel kanteling as rolbeweging meganies te stabiliseer, hoef die sagteware veel minder digitale manipulasie te doen, wat ’n skerp, organiese beeld tot gevolg het.

’n Beter f/2.2-lens: DJI het die ou f/2.8-glas vervang met ’n veel wyer f/2.2-diafragma. Dit laat aansienlik meer lig die sensor bereik, wat beteken die hommeltuig se verwerker hoef nie die ISO aggressief op te stoot in swak lig nie. Die skaduwees bly skoon, en die grein verdwyn.

Beter verwerking en 4K/60 fps: ’n Vinniger interne beeldverwerker verbeter die verrigting, terwyl dit die maksimum raamkoers van 4K/30 fps tot 4K/60 fps opskuif.

Waarvan ek regtig hou

Vormfaktor: Teen net 151 gram – sonder die opsionele digitale seinontvangermodule – is dit steeds belaglik klein en lig. Jy kan dit sonder om twee keer te dink in ’n baadjiesak of die sysak van ’n rugsak stop.

Uiters gebruikersvriendelik: Dis verspot maklik om dit in die lug en op die grond te kry. Jy kan dit direk uit jou handpalm laat opstyg en land, en dit heeltemal met handgebare of stemopdragte beheer. As jy meer presisie nodig het, kan jy dit moeiteloos aan jou selfoon koppel of ’n tradisionele DJI-kontroleer of FPV-bril gebruik.

Dis moeilik om dit te laat neerstort of te laat bots: Die Neo 2 het sensors in al die rigtings en die volgstelsel is opgegradeer. Dit gebruik ’n vorentoe gerigte LiDAR-sensor. Dit karteer sy omgewing met uiterste akkuraatheid, wat dit moeilik maak om in outomatiese volg-modus per ongeluk teen ’n muur of boom vas te vlieg.

Beter windweerstand: Dit is van vlak 4- na vlak 5-windweerstand opgegradeer, wat dit in staat stel om rukwinde van tot 10,7 meter per sekonde te hanteer.

Die prys: Dit bly hoogs bekostigbaar en bied ’n enorme hoeveelheid tegnologie en stabilisering teen ’n fraksie van die prys van ’n vlagskip-hommeltuig.

 

Die grootste struikelblok met die Neo 2 is egter dat hy batterye verorber soos ’n tienerseun braaivleis.

 

Die nadeel: Dis lig en vreet batterye

Natuurlik wen fisika altyd op die ou end. Omdat dit net 151 g weeg, bly dit steeds taamlik onseker in sterk, onvoorspelbare wind. Om eerlik te wees, vlieg ek tans die DJI Mini-reeks (wat 249 gram weeg), en dié reeks vaar ook nie juis waffers in sterk wind nie. Dit is dus moeilik om die Neo 2 dáároor af te skryf.

Met die nuwe 4K/60 fps-verwerking, die 2-as-skarniergewrig en die energie-intensiewe LiDAR-volgstelsel, gaan jy hom moet batterye voer dat dit bars. DJI praat van 13 minute vliegtyd per battery. Mik maar reg van die begin af vir die Fly More Combo, wat die ekstra batterye insluit. Jy gaan dit beslis nodig kry.

 

Só vergelyk hulle 

 

Spesifikasie DJI Neo DJI Neo 2
Gewig by opstyging 135g 151g (160g met die seinontvanger)
Stabilisering Skarniergewrig met 1 as Skarniergewrig met 2 asse
Lens-opening f/2.8 f/2.2 (skerper)
Maksimum video-resolusie 4K teen 30fps 4K teen 60fps (100fps in stadige aksie)
Vertikale skote 1080p 2.7K teen 60fps
Windweerstand Vlak 4 (8 m/s) Vlak 5 (10,7 m/s)
Sensors Net ondertoe Alomgerigte sensors + vorentoe LiDAR
Interne stoorplek 22 GB 49 GB

 

ALLES sê

Kom ons wees realisties. Jy gaan nie hierdie ultraligte tuig gebruik om ’n rolprentmeesterstuk vir ’n TV-netwerk of op ’n rolprentstel te skiet nie. Maar vir 90% van hommeltuiggebruikers – vloggers, inhoudskeppers en fotografie-entoesiaste wat goeie gehalte video’s en foto’s wil hê en ’n hommeltuig met nasporing soek sonder om swaar toerusting saam te dra – is die Neo 2 ’n ongelooflik nuttige, bekwame hulpmiddel wat goeie waarde vir geld bied.

 

Prys

Sowat R4 499 vir net die hommeltuig, en R8 399 vir die Fly More Combo, wat ons aanbeveel. Kry dit by takealot.com

Hierdie artikel is nie geborg nie, maar bevat geaffilieerde skakels. As jy ’n aankoop deur die skakel maak, sal ALLES ’n klein kommissie verdien sonder dat jy iets ekstra betaal. Alle menings is dié van die redaksie.