Wat’s In Jou Handsak? Louis Vuitton vang die oog met die nuwe Speedy P9
In sy nuwe bemarkingsveldtog het Louis Vuitton die fokus verskuif vanaf die sak na sy inhoud, en gee dit ’n blik op die persoon se styl, roetine en elkedagse dinge.
Luukse veldtogte vang nie altyd Jan Alleman se oog nie, maar in sy jongste “In My Bag”-veldtog verskuif Louis Vuitton die fokus na iets meer intiem en herkenbaar. In plaas daarvan om ons te vra om na die sak te kyk, vra dit ons om bínne die sak te kyk, en deur dit te doen, word die Speedy P9 minder van ’n statussimbool en meer van ’n getuie van iemand se lewe. ’n Reeks kulturele swaargewigte word genooi om letterlik hul lewens oop te rits vir die publiek.
Die veldtog se fotografie is behartig deur Thomas Lagrange en LeBron James, Jude Bellingham, Future, Jeremy Allen White, Jackson Wang en Victor Wembanyama het hul sakke oopgemaak. Hoewel die name wêreldwyd bekend is, is die gebaar verrassend alledaags: Elkeen maak hul sak oop vir die wêreld om te sien, en wat uitpeul, is gelyke dele persoonlikheid en roetine. ’n Opgevoude koerant, ’n paspoort waarvan die blaaie omkrul, oorfone, dobbelstene, ’n tennisraket, ’n ekstra paar tekkies – dis items wat in enigeen van ons se sakke kan wees.
En dit is presies hoekom die veldtog suksesvol is. Dit steun nie net op die luuksheid en aspirasie van die handelsmerk nie, maar eerder op die herkenning van “ja, dis presies hoe my sak lyk”.
Die Speedy is nog altyd met beweging verbind omdat dit in die 1930’s bekendgestel is as ’n sagter, meer kompakte reissak. Die kreatiewe direkteur Pharrell Williams het met sy ontwerp nie wegbeweeg van daardie nalatenskap nie, maar dit verfyn. Die P9, vernoem na Pont-Neuf, die Paryse brug waar Williams sy debuut gemaak het, sluit aan by die idee van “onderweg wees”. Die sak is van kalfsleer gemaak en bottersag, en voel van die begin af asof jy dit al jare lank gebruik.
Die veldtogfoto’s wys die items wat binne-in die Speedy P9 nesgeskop het, en bied ’n blik op die veelsydige lewens van die Louis Vuitton-ambassadeurs en -vriende.
Die Golden Globe-bekroonde akteur Jeremy Allen White dra vandag se koerant, ’n spiraal-notaboek, ’n hoed met ’n rand, ’n kam, horlosie, dobbelstene, ekstra sokkies en ’n herlaaikabel in sy groen Speedy P9.

Die bekroonde Engelse sokkerwonderkind Jude Bellingham hou ’n sonbril, vliegkaartjie en paspoort, ’n amptelike sokkertrui, Louis Vuitton Ombre Nomade-parfuum en ’n stel sleutels met persoonlike sleutelhouers.

Terwyl die Grammy-bekroonde kunstenaar Future sy blou Speedy P9 vul met ’n tennisraket, goue ketting met diamante, ’n Monogram-halsketting, jellielekkers en ’n ekstra paar tekkies.

Die basketballegende en Olimpiese gouemedaljewenner LeBron James rits sy helder geel Speedy P9 oop. Hy dra gholfballe en afslaanpennetjies saam, asook basiese benodigdhede soos skeerroom en sy kenmerkende pet.

Daarenteen vul die rapper Jackson Wang sy pienk Speedy P9 (wat hy met ’n paar donsige dobbelstene versier) onder meer met hoë gehalte oorfone, ’n Polaroid-foto van sy familie, ’n skermhandskoen, musieknotasie, Rubik-speelblok en ’n mini-tekkie.

En laastens dra die basketbalspeler Victor Wembanyama ’n mini-basketbal in sy petrolblou Speedy P9, saam met ’n stel kaarte, gelukbringer en oorfone.

LEES OOK: Het jy nuwe oorfone nodig? Hier is die beste keuses vir elke behoefte en begroting
Dis ’n versameling dinge wat bekend voel.
In Kaapstad is dit dalk ’n trui wat die hele jaar in jou sak bly omdat die weer kort-kort draai, terwyl die sambreel wat jy aanhou saamdra meer simbolies as prakties is.
In Johannesburg gaan dit minder oor die elemente en meer oor die tempo, so die inhoud lyk anders: ’n kragbank wat jy altyd nodig kry, die groen ID-boekie wat nog nie die boodskap gekry het nie, bruiswater wat onder in die sak rondrol, ’n verskeidenheid lipsalwe, ’n boek waarin jy af en toe lees, ’n voorskrif wat iewers vergete geraak het, ’n paar teesakkies wat amper onbewustelik ingevoeg is.
Dit is alles ’n rekord van beweging, van gewoontes, van klein voorsorgmaatreëls wat meer sê oor hoe ’n dag ontvou. En dalk is dit hoekom die Speedy P9 wyer aanklank vind as kopers in daardie prysklas, want hoewel dit onteenseglik ’n luukse voorwerp is, word dit geposisioneer as iets waarmee jy dinge versamel, wat sag word rondom jou roetines en mettertyd soos jy begin lyk.
Wat anders is nog beskikbaar as Louis Vuitton?
COS: Groot leer inkopiesak, R3928
Die sak is baie minimalisties, amper ingetoë, maar dit is juis die aantrekkingskrag daarvan. Dit dikteer nie wat binne-in moet wees nie, dit pas aan by jou behoeftes. Dit maak dit ideaal vir daardie veeleisende dae wat jou van jou lessenaar na aandete na die dansvloer neem.
Desigual: Groot Laslapsak, R3799
’n Draagbare bron van inspirasie: ruim en onbeskaamd luidrugtig op al die regte maniere.
Melvill & Moon: Nairobi Race Day-sak, R7650
Die sak is deeglik gestruktureer met verskeie kompartemente en afdelings, en hou elke ding netjies op sy plek en binne bereik, of dit nou ’n kaarthouer, verkyker, heupfles, baadjie of ’n ekstra paar skoene is.
Lees ook
Tekkie van die week: Uiteindelik ’n diervel-motief wat jy kan bekostig
Bekostigbare tekkiekultuur het pas sy beste hoofstuk tot nog toe gekry. Diervel-tekkies beleef nou hul oomblik in die kollig. Van laesnit-tekkies me...
- 3 hours ago
Tekkie van die week: Die Converse x GOLF le FLEUR 1908 Jogger is maklik om lief te hê
Wanneer laas het ’n tekkie werklik gelukkig gelyk?
- 1 week ago
Is jy reg vir Voetbal-Vrydae? Hier is die beste Bafana Bafana-ondersteunersdrag
Kry jy weer daardie lekker Wêreldbeker-gevoel?
- 1 week ago







