GETOETS: Salomon Aero Glide 4 GRVL – Die skoen wat die veelsydigheidsbeker wen
Ek het die Salomon Aero Glide 4 GRVL gekry vir my weeklikse Parkrun (ek doen die een op Meerendal, buite Durbanville, waar jy tussen die wingerde draf) en vir dagstappe. Meer as 300 km later het dit die skoen geword waarna ek vir alles gryp. Nie omdat dit goed is met ’n paar goed nie, maar omdat dit fantasties is met alles. Salomon het ’n grondpadskoen geskep waarvan pad- én veldloopdrawwers sal hou – en dít is hoekom dit die veelsydigste skoen in my kas is.
In die wêreld van drafskoene was die grense tradisioneel duidelik: Daar was skoene vir drawwers wat op die pad en sypaadjies hardloop. Dit het gewoonlik ’n dik, gekussingde middelste loopvlak en min rubber onder die skoen. Vir veldloop-atlete (“trail runners”) was daar veldloopskoene wat aggressiewe knoppies en groewe van sowat 4 mm op die loopvlak het, met soms ’n rotsplaat in die middelste vlak van die skoen. Grondpadskoene (“gravel shoes”) is ’n interessante tussenin-skoen – dis ontwerp vir grondpaaie, ligte veldroetes en gemengde oppervlakke waar suiwer paddrafskoene te min greep bied en volwaardige veldlooptekkies oordadig voel.
Die grondpadskoen-dilemma
Die uitdaging met enige “tussen-in”-skoen is egter dat as jy na ’n skoen mik wat vir almal geskik is, die pap op die grond kan val. Dan sit jy op die ou end met ’n skoen wat vir niemand geskik is nie. ’n Grondpadskoen met te min traksie kan jou in die veld laat gly. Te veel greep en ’n swaar konstruksie, en teerpaddrawwers word teruggehou op gladder oppervlakke. Die meerderheid hibriede skoene is ongelukkig so-so in albei omgewings en blink in geen een uit nie.
Maar nadat ek meer as 300 km met die Salomon Aero Glide 4 GRVL afgelê het, is ek oortuig Salomon het die perfekte balans gevind.
Gebou om te klou
Toe ek met hierdie toets begin het, moet ek erken, was ek skepties. Teen net 2,5 mm het die groewe op die loopvlak vir my te eina gelyk. Ek was bekommerd dat hulle my op op- en afdraandes op los klippe in die steek sou laat.
Ek was egter verkeerd. Verstommend verkeerd.
Daardie 2,5 mm-loopvlakgroewe het meer as genoeg traksie gebied op steil hellings met los gruis, sowel opdraand as afdraand. Die Contagrip-rubbermengsel het uitstekend gewerk en vertroue ingeboesem wanneer die terrein uitdagend geraak het. Maar hier is waar dit werklik interessant geword het: In klewerige moddertoestande het die vlakker groewe selfs beter gevaar as die tipiese 4 mm-groewe van die gewone veldlooptekkies. Hoekom? Vlakker groewe beteken minder modder kan onder die sool opbou. Terwyl my veldloopskoene in platformstewels verander het, het die Aero Glide 4 modder afgeskud soos ’n hond wat uit die plaasdam klim.

Quicklace-gerief
Waar die Aero Glide 3 GRVL gewone veters het, het die Aero Glide 4 GRVL na Salomon se Quicklace-stelsel opgegradeer – en ek is mal daaroor. Ek weet nie almal is ewe in hul skik met die Quicklaces nie, maar ek verkies dié veterstelsel. Om nooit te hoef bekommer dat jou veters midde-in ’n drafsessie loskom nie, is ’n luukse wat ek nie besef het ek nodig het nie! Jy trek dit styf, steek die oortollige deel in die flappie weg (Salomon noem die flappie die “garage”), en siedaar!
Meer spasie by die toonboks
Salomon het ’n reputasie vir smal toonbokse wat drawwers met breër voete benoud laat voel. Ek het dié frustrasie met vorige modelle ervaar, soos die baie gewilde Speedcross. Die Aero Glide 4 is egter ruim genoeg waar dit saak maak. Dit pas baie gemaklik sonder om te los te voel.
Die bo-stuk het ’n fyngeweefde dubbellaaggaas wat asemhaling en duursaamheid balanseer, terwyl die tong met sy kant-insetsels klippies en stokkies uithou en keer dat die tong irriterend rondskuif. Daar is ekstra kussing by die hak, ’n deurdagte stukkie gerief vir lang dae op jou voete.
Die sagte middelsool-‘magic’
Die een eienskap wat my egter oorrompel het, is die skokdemping wat deur die middelsool moontlik gemaak word. Die middelsool gebruik Optifoam – die Aero Glide 3 het Energy Evo Foam, gebruik – met ’n ruim 41 mm-soolhoogte, en die resultaat is ’n heerlik sagte, veerkragtige stap- of drafsessie. Dit is nie die ferm, responsiewe skuim wat jy in ’n wedloopskoen sou kry nie, dit is ’n sagte skokbreker wat jou in staat stel om die kilometers te verslind.
Vir daaglikse oefensessies en langer afstande (tot by marathonlengte) tref hierdie middelsool die perfekte balans tussen beskerming en energieterugvoer. Jou bene bly vars, jou gewrigte bly gelukkig, en jy wil net nóg ’n bietjie verder gaan.
Gevolgtrekking
Ek het die Salomon Aero Glide 4 GRVL gekoop met die idee dat dit ’n spesifieke nis in my rotasie sou vul: veldloopsessies op matige terrein. In plaas daarvan het dit iets baie waardevoller geword – my gunstelingskoen vir enige oppervlak.
Dit is die paar waarna ek gryp wanneer ek onseker is wat die terrein na my kant toe gaan gooi. Dit is die skoen waarna ek reik wanneer ek ’n gemakliker sessie oor langer afstande wil hê, ongeag of ek op teer-, grond- of tweespoorpaaie is. Salomon wou ’n veelsydige grondpadskoen skep wat nie op padhardloopgerief óf veldloop-vastrapvermoë sou inboet nie – en hulle het daarin geslaag.
Die Aero Glide 4 GRVL is daardie seldsame tussenin-skoen wat nie soos ’n kompromie voel nie; dit voel soos die beste van albei wêrelde. Of jy nou ’n padhardloper is wat in die veld wil kom, of ’n velddrawwer is wat iets minder aggressief soek vir makliker dae soek, hierdie skoen kan sy man staan.
Ons beveel dit sterk aan.
Getoets oor meer as 300 km op gemengde terrein, insluitend paaie, gruispaadjies, los roetes, steil hellings en modderige toestande.
Belangrikste spesifikasies:
Gewig: 230 gram
Helling: 8 mm
Beste vir: gruis, grondpad, gemengde terrein
Frekwensie: Daaglikse oefensessies, twee tot drie keer per week
ALLES SÊ:
Die sterk punte van die Aero Glide GRVL – die fantastiese Contagrip-sool en sagte middelsool – het min verander vanaf die Aero Glide 3 tot die jongste Aero Glide 4. As jy nie omgee vir die gewone veters en minder gaas in die bo-stukke nie, kan jy die Aero Glide 3 GRVL nou teen ’n winskopie kry. Maar ons is wel mal oor die slangontwerp van die jongste weergawe.
Koop dit by takealot.com teen sowat R3599 vir die Aero Glide IV GRVL en R1899 vir die Aero Glide 3 GRVL.
Salomon Aero Glide IV GRVL (vroue)
Salomon Aero Glide IV GRVL (mans)
Salomon Aero Glide (pad-weergawe)
Hierdie artikel is nie geborg nie, maar bevat geaffilieerde skakels. As jy ’n aankoop deur die skakel maak, sal ALLES ’n klein kommissie verdien sonder dat jy iets ekstra betaal. Alle menings is dié van die redaksie.
Lees ook
Oog op die toekoms: Hoe adidas se Wêreldbeker-sokkerbal die sport verbeter
Sokkerballe wat ingeprop moet word om te laai voor ’n wedstryd is niks nuuts nie.
- 1 week ago
Boodskap uit die boendoes: Ontmoet die nuwe Garmin InReach Mini 3 Plus
In ’n noodgeval kan dit ’n kwessie van lewe en dood wees om ’n boodskap by die regte mense uit te kry.
- 4 weeks ago
Slaap beter: Die Cori Contour-geheuesponskussing sal jou met die regte voet uit die bed laat klim
Word jy wakker met nekpyn, styfheid of hoofpyne?
- 3 months ago









